
Die kaart wys die twee gebiede by Garub – 3758 en 3759 – aan. Dit is saam 188 417 hektaar groot en lê in die Namib Naukluftpark (noord) en die Sperrgebiet (suid). Die EPL 3572 wys waar Xemplar Energy Corporation moontlik nog uraan kan soek.
TWEE eksklusiewe prospekteerlisensies (EPL) vir gebiede wat in die Sperrgebiet en die Namib Naukluftpark geleë is, is verlede maand goedgekeur en sal deur die uraansoekers Xemplar Energy Corporation gebruik word om na nog ’n energiebron in Namibië te soek.
Die twee EPL’s, te wete 3758 en 3759, is saam 188 417 hektaar groot en word by Xemplar se sogenaamde Garub-projek geinkorporeer. Nommer 3758 lê in die Namib Naukluftpark en 3759 strek oor die grense van dié park en die Sperrgebiet.
Die bekende Garub-watergat, waar die wilde perde van die Namib suip, is ook in dié gebied geleë. Xemplar is reeds bekend in die verre suidooste van die land, waar grootskaalse eksplorasiewerk vir uraan by Warmbad aan die gang is. Saam met die lisensies en ’n ander langs die kus, maak dit van die Kanadese uraansoeker een van die grootste EPLhouers in die land met altesame 738 200 hektaar onder eksplorasie.
Die lisensies is almal toegestaan vir die eksplorasie van kernbrandstof en die waardevolle stenegroepe van minerale. ’n Beduidende Langer Heinrich-tipe uraanneerslag in die vorm van carnotiet word ondersoek oor ’n gebied wat oor die 188 000 hektaar strek. Benewens uraan, kan prospekteerwerk moontlik waardevolle edelgesteentes of diamante oplewer.
Hoewel Anglo American Plc. die westelike deel van die Ausneerslag ondersoek het, is Aus die omgewing wat nog die minste ontgin is. Bevindinge van Anglo American in die laat sewentigerjare sluit noemenswaardige uraanwaardes in carnotiet en rooi sand in.
Die maatskappy was egter teleurgesteld met basiese opvolg-veldwerk en het die gebied verlaat. Xemplar se waardering van die eiendom het ’n besoek aan die Koichab-riviervallei ingesluit, waar kalkagtige terrasse geïdentifiseer is. Verdere ontledings het ook op lae, gemeng met hoë magnetiese strome, gewys.
Dit is kenmerkend van kimberlietpype wat ’n belangrike bron van diamante is. As gevolg van die bevindinge het Xemplar, deur Namura Mineral Resources in Windhoek, aansoek gedoen vir ’n verkenningslisensie (ERL) vir die Garub-omgewing, wat verlede jaar in November goedgekeur is. Dit is nou met ’n prospekteerlisensie vervang.
Intussen het die maatskappy ook om ’n prospekteerlisensie vir ’n ander gebied, Nommer 3572, aansoek gedoen. Die gebied lê noordoos van Aus, net oos van die Tirasberge. Namib-Hydrosearch is as geologiese konsultante aangestel en het reeds by verskeie uraanprojekte in die land gewerk. Hulle is verantwoordelik vir die radonopnames.