Suiderland


Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

9.02.2010

Tuna word weer ’n opsie


Die hawe by Lüderitz.

MET vispryse wat die afgelope tyd gedaal het, bestaan die moontlikheid dat die nismark vir duur vis deur goedkoper vis vervang sal word. Volgens mnr. Ronnie Coppin, hoof uitvoerende beampte van die Seaflower-maatskappy, het dit verlede jaar fantasties gegaan met die visbedryf wat vangste en grootte van vis betref. Maatreëls wat die afgelope tyd in die bedryf ingestel is, het vrugte begin afwerp, sę hy.

“Aan die een kant gaan dit egter goed en aan die ander kant sleg.” Mnr. Coppin verduidelik dat die węreldwye finansiële krisis ’n groot invloed op die prys van vis gehad het – vis is soms teen 25% minder as gewoonlik verkoop. “Die wisselkoers is ook teen ons, maar moontlik sal dit verander ná die Węreldbeker-sokkertoernooi wat vanjaar in Suid-Afrika aangebied word.

“Vir sowat 6 tot 12 maande sal dit maar broekskeur gaan. Daarna sal dit moontlik verander en dan sal Europa se ekonomie ook beter begin lyk.” Volgens hom is die probleem nie dat Europa opgehou vis eet het nie, maar dat hulle minder duur vis eet. Indien jy vir twee jaar gewoond raak om goedkoper vis (bv. katvis) te koop en te eet, gaan dit moeilik wees om die mark weer te oorreed om duurder vis te koop.

Intussen word tunabronne węreldwyd uitgebuit en het die prys daarvan duurder geword. Gevolglik het tuna ook nou vir Namibië meer belangrik geword. Voorheen het ongereguleerde en onwettige bote in internasionale waters tuna gevang en regulasies is dus ingestel om beheer toe te pas. Bewys moet nou węreldwyd gelewer word dat die tuna nie deur IUU (Illegal, Unregulated and Unreported) bote gevang is nie.

Volgens mnr. Coppin sal daar gevolglik tot sowat 50% minder onwettige tuna op die mark wees en hopelik in die toekoms sal onwettige vangste heeltemal tot niet wees. Hy het voorts gesę vrugbare vergaderings is tussen die bedryf en die Minister van Visserye en Mariene Hulpbronne gehou waartydens die onderprestasie van die tunasektor ook bespreek is. Hoewel tuna voorheen in Namibië gevang is, is dit nie as winsgewend beskou nie, maar met die verandering in omstandighede word dit nou as ’n winsgewende produk gesien waaruit Namibië kan baat.

Die kreefseisoen wat gewoonlik in November begin, is verlede jaar tot Januarie uitgestel aangesien dit nie winsgewend vir bote was om see toe te gaan om kreef te vang nie. Meeste van die klein operateurs het besluit om nie see toe te gaan voordat ’n vaste prys op kreef vasgestel is. Sommiges wat wel see toe gegaan het, het egter goed kreef gevang, sę mnr. Coppin.

“Dit is nie die moeite werd om uit te gaan en die kreef teen ’n swak prys te verkoop nie. “In sulke omstandighede is dit baie beter om die kreef plaaslik te verkoop en koste te verminder.” Proefnemings om kreef lewendig uit te voer, het teen Januarie ’n sterftesyfer van minder as twee persent opgelewer. Tydens Desember en Januarie is 3,5 ton kreef lewendig uitgevoer.