15.11.2011 Stelsel ingestel vir vloedwaarskuwings
 Die Hardapdam wat op die oomblik sowat 65 persent vol is, gaan gedurende die komende reënseisoen noukeurig gemonitor word en ’n vroeë waarskuwingstelsel gaan verseker dat ongeag invloei, die inhoudsvlak op 70 persent beheer gaan word.
VANDAG vergader Mariental se taakmag vir vloedbeheer vir die laaste amptelike vergadering van die jaar. By dié geleentheid gaan onder meer seker gemaak word dat die vroeë waarskuwingstelsel met die oog op die komende reënseisoen behoorlik funksioneer.
Die voorsitter van die taakmagspan op die dorp, mnr. Chris Nel, het in ’n onderhoud aan Suiderland gesê vandag sal oor die vroeë waarskuwingstelsel in detail herbesin word ten einde inwoners van die gebied voortydig te waarsku indien swaar reën dit weer gaan noodsaak om die sluise van die Hardapdam oop te trek.
Die oogmerk is ook om tydens enige moontlike waarskuwing van vloedwater, algemene waarskuwings deur middel van koerante en radiodienste met die gemeenskap te kommunikeer wanneer die water van die dam ’n sekere vlak bereik.
“Dit is noodsaaklik dat ons ’n voorsprong van minstens 30 ure het wanneer invloei die dam sal bereik. Daarom moet alle moniteringstasies en waarskuwingstelsels gereed wees sodat inligting oor aankomende water in die opvanggebied van die dam, voortydig aan ons verstrek kan word,” het hy gesê.
“Op vandag se vergadering sal onder meer ook ’n besluit geneem moet word oor die vestiging van ’n bemande kantoor gedurende die komende reëntyd,” het Nel bevestig.
Toestande rakende vloedbeheer, die skoonmaak van die rivierloop van die Visrivier onder die wal van die Hardapdam tot sy uitvloei onderdeur die padbrug oor die rivier suid van die dorp en ook die uitroei van rietbosse in die rivierbedding, is deel van die primêre funksies van die taakmag sedert die laaste vloedskade wat op die dorp voorgekom het.
Heelwat positiewe resultate is reeds behaal met die bespuiting van die digte riete – soveel so dat die veilige uitvloei uit die dam reeds verdubbel het vanaf 400 tot 800 kubieke meter per sekonde.
Intussen het die taakmag opdragte aan konsultante deur middel van ’n tenderproses gegee om opmetings in die suidelike gedeelte van die projekgebied te doen en geologiese ontledings uit te voer om te bepaal wat die aard van die sediment is en die diepte daarvan. Die konsultante sou aanbevelings maak ten opsigte van die volumes sediment wat verwyder moet word om die uitvloei uit die dam tydens vloedsituasies veiliger te maak. Dié werk is intussen afgehandel.
“Die bevinding van die konsultante is dat die rivier deurlopend in die projekgebied twee meter dieper gemaak moet word om weer op die vlak van die ou loop van die rivier te kom asook om dit deurlopend 150 meter wyer te maak. Dit sal die vloedspoed van die rivier verbeter en ook om die brug oor die Maltahöhepad wat 150 meter is, te akkommodeer,” het Nel gesê.
“Die inligting het ons in staat gestel om ’n tender te adverteer vir die dieper en wyer maak van die rivier. Dié tenders het intussen gesluit,” het hy bevestig.
Vir dié projek het die taakmag N$135 000 miljoen van die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou aangevra vir die nuwe finansiële jaar.
Die verwydering (spuit) van die riete is ’n projek waarmee die taakmag die afgelope twee jaar besig is en uitstekende resultate is reeds behaal. Dit is een van die redes waarom die uitlaat uit die dam so verhoog kon word.
“Ons beplan ’n opvolg bespuiting van riete later vandeesmaand. Dit word gewoonlik twee keer per jaar gedoen – in Meimaand en dan weer laat in November. Die algemene aanvaarding is dat die bespuiting oor ’n tydperk van vyf jaar gedoen moet word om die riete behoorlik te kan beheer,” het Nel gesê.
|