8.07.2008

Spogskou vir Keetmans beplan

© Francios Olivier
DIE skou op Keetmanshoop, wat van 10 tot 12 September plaasvind, slaan vanjaar ’n nuwe blaadjie om. Volgens me. Birna Adriaanse (foto), skoubemarker van Keetmanshoop, sal daar vir die eerste keer in drie jaar ’n pretpark wees.

“Die skou het verlede jaar meer as 20 000 besoekers gehad en gaan vanjaar beter en meer opwindend wees,” het sy verseker. Een van die hoogtepunte is ’n rugbywedstryd tussen die Privaatskool Elnatan van Stampriet en die Privaatskool Keetmanshoop. Skougangers kan ook uitsien na optredes deur Shorty, veral bekend vir sy rol in van Leon Schuster se rolprente, en Egoli se Mi- chelle Beling (Candy) wat die gehoor met haar sang gaan vermaak.

Volgens me. Adriaanse heers daar heelwat publieke belangstelling in die skoustalletjies. Die skoukomitee beoog om die laaste dag tot later as gewoonlik te rek om die vol program in te pas. Die kroning van Mej. Skou is nog ’n hoogtepunt en vind gewoonlik op die eerste aand van die skouweek plaas.

Dit is ’n baie elegante geleentheid en gaan gepaard met ’n extravaganza. Ma’s kan ook hul babas en dogters vir die baba- en Mej. Tienerkompetisie inskryf. Meer inligting kan by 063 223 167 bekom word.