8.07.2008

Soeke na uraan vorder fluks

BOORWERK van uraansoekers in die Warmbad-omgewing het die afgelope jaar goeie uitslae gelewer en die aanduiding is dat van die neerslae selfs groter kan wees as wat aanvanklik gereken is. In hulle jongste nuusbrief sê Xemplar Energy Corporation ondersoekwerk wat die afgelope vier maande gedoen is, wys dat 14 van die oorspronklike uraandraende liggame verbind is.

Dit blyk ook dat die grootste liggaam op die plaas Aluriesfontein nóg groter is as wat aanvanklik gedink is. Dié liggaam is eers op 16 vierkante kilometer geskat, maar ondersoeke het gewys dat dit tot 36 vierkante kilometer groot kan wees. “Dit is noemenswaardig dat die tipe rotse wat in die liggaam voorkom, soortgelyk is as die wat by die Rössing-uraanmyn gekry is.

Die myn lewer sewe persent van die wêreld se uraan teen ’n graad van 0,012 persent,” lui ’n verklaring deur Xemplar se direkteur, mnr. Simon Tam. In die verklaring sê mnr. Tam sy maatskappy is besig om ’n grootskaalse boorprogram uit te voer om al die liggame te toets. Sedert boorwerk aan die einde van verlede jaar begin het, is 66 boorgate al voltooi.

Die uitslae van die eerste 12 is in Februarie bekend gemaak, terwyl die resultate van 17 ander boorgate al ontvang is. Nog 37 boorgate se uitslae word nog verwerk. “Die uitslae is baie bemoedigend. Dit bevestig die teenwoordigheid van uraan en uraandraende erts op dieptes wat die direksie verwag het,” sê mnr. Tam.

In die volgende jaar sal Xemplar voortgaan met boorwerk. Hulle wil teen die einde van 2008 sowat 40 000 meter geboor het. Intussen werp Xemplar alles in die stryd om die geologie van die omgewing beter te verstaan. “In die proses het ons aansienlike operasionele vordering oor die laaste ses maande getoon. Op die stadium het ons sewe boormasjiene op ons eiendomme.

Ses hiervan be hoort aan die maatskappy. Eersdaags sal dit nege wees.” Mnr. Tam het ook gesê sowat 60 werknemers is betrokke by die boor-en ondersoekwerk. Die werkersmag bestaan uit sewe geoloë, boormanne, monsternemers, data-opnemers en kamppersooneel. Hulle werk onder die toesig van mnr. Charles Johnston, die maatskappy se nuwe hoofgeoloog en eksplorasiebestuurder.

Die Warmbad-projek is aanvanklik geïdentifiseer deur die Regering se kug-radiometiese opnames, geologiese verslae en geologiese veldwerk. Dit is opgevolg met ’n gedetaileerde radiometriese opname met behulp van ’n helikopter, waartydens die maatskappy die 14 groot uraandraende liggame geïdentifiseer het.