
Personeellede van Farmers’ Meat Market besig om diere by die fabriek te bewerk. Tot 1 500 skaap word daagliks geslag.
FARMERS’ Meat Market Mariental Abattoir staan sterk en het groot planne vir die toekoms. “Nadat uitvoere na Europa in 2006 tot stilstand gekom het, wat vir ons ’n moeilike tyd was, het omstandighede verbeter en ons voer nou weer na Suid-Afrika en Europa uit,” het mnr. Leon Swartz, hoofbestuurder by Farmers’ Meat Market gesê.
Dié maatskappy is nou so sterk dat 27 bykomende personeel in Mei vanjaar in die ontbeningsafdeling aangestel is. Farmers’ Meat Market ontbeen elke dag omtrent 300 skape en 300 springbokke en slag daagliks sowat 1 500 skaap.
Van die 27 mense is personeellede wat al afgetree het, maar heraangestel is. “Hulle weet reeds hoe die bedryf funksioneer en dit vergemaklik sake en bespaar baie tyd,” aldus mnr. Swartz. Vroue tel ook onder die nuwe heraanstellings. Buiten die bykomende aanstellings werk 120 mense by Farmers’ Meat Market, waarvan 92 aan die fabriek verbonde is.
Een van die toekomsplanne van die maatskappy is om na België uit te voer. “Ons wil probeer om ander markte ook te betree,” het mnr. Swartz gesê. Drie van Farmers’ Meat Market se direkteure is in Europa om die maatskappy se opsies te ondersoek.
November tot Junie is die besigste seisoen met die grootste markaanvraag en dan word meer na Europa en Suid-Afrika uitgevoer. ’n Opwindende en besige tyd lê voor met die springbokjagseisoen wat in volle gang is. Dié seisoen duur tot September en tussen 10 000 en 12 000 springbokke word hiertydens verwerk.
Klik op die foto om die fotogallery te vertoon.
In die gallery sal jy na die volgende of die vorige foto's kan aanbeweeg deur in die linker- of die regterkant van die foto te klik. Alternatiewelik kan jy die sleutel "T" gebruik vir terug, "V" vir vorentoe of "M" om die fotovenster toe te maak.