
Mnr. Billy Mensah
MNR. Billy Mensah is pas as die nuwe burgemeester van Mariental aangewys en sy eerste prioriteit in die pos sal wees om die opgra deringsproses van informele ne dersettings te voltooi. “Ek sal hoofsaaklik daarop fokus om sanitasie na die informele nedersettings te bring wat tans ’n uitdaging is vir mense wat in die areas woon.”
Verskillende droë sanitasie stel sels is reeds op die proef gestel, maar ’n langtermyn oplossing vir die probleem word nog gesoek. Volgens mnr. Mensah is die bevordering van plaaslike ekonomiese ontwikkeling op Mariental ook ’n hoofprioriteit.
“Probleme word tans ondervind met werkloosheid en armoede en deur plaaslike ekomiese ontwikkeling te verbeter, sal dit ’n goeie begin wees om die probleme te hanteer en die sosioëkonomiese standaard van mense, veral die armstes op die dorp, op te hef.” Hy het bygevoeg dat sekere kwe s - sies soos die bekommernis van sakemense in die sentrale sakedistrik oor vloede egter eers bespreek moet word.
“Die kwessie moet spoedig opgelos word sodat ons in alle erns na die ontwikkeling van die dorp en sy inwoners kan begin kyk.” Mnr. Mensah het ook sommige van die ontwikkelingsprojekte aan Suiderland genoem wat in Mariental geïdentifiseer is waarvan een die Woermann Brock-inkoopsentrum is wat gebou sal word.
Onderhandelinge vir die sentrum is in ’n gevorderde stadium en behoort binnekort voltooi te wees. Dit sal die ekonomie van Mariental beslis ’n hupstoot gee aangesien die inkoopsentrum meer geleenthede vir die uitbreiding van besighede en werks geleenthede sal voorsien, sê mnr. Mensah. Voorts sal ’n satelliet-polisiekantoor in die Aimablaagte-woonbuurt ingerig word.
Die polisiekantoor wat tans op die dorp geleë is, is baie ver van inwoners van Aimablaagte en nabygeleë woonbuurte. Volgens mnr. Mensah veroorsaak dit dat mense soms misdade nie aanmeld nie of selfs op hul pad om een aan te meld, sterf. Die doel is dus om die polisie nader aan die mense te bring wat sal help om misdaad te verminder en die veiligheid van inwoners in die woonbuurte te verseker.
“Veiligheid en sekuriteit is baie belangrike aspekte in ekonomiese ontwikkeling en hou met toerisme verband wat ’n groeiende aktiwiteit op Mariental is.” Mnr. Mensah sê dat die raad ook daarna kyk om ruimte vir smouse in die sentrale sakedistrik te voorsien. Tans is daar geen gepaste plek waar die mense sake kan doen nie.
Die munisipaliteit wil dus deur konsultasie met die infor mele besigheidsektor ’n gepaste plek identifiseer met ordentlike infrastruktuur wat nader aan hul markte sal wees. Dit sal die sosioëkonomiese situasie ’n hupstoot gee en meer werk en finansiële voordele aan die segment van die ekonomie voorsien.
Voorts het Mariental se munisipale raad onlangs besluit om ’n nuwe munisipale kantoorgebou te bou om beter dienste aan die gemeenskap te voorsien. Die huidige gebou sal ook opgegradeer word en as die finansiële en ekonomiese ontwikkelingsafdeling gebruik word. “Dit sal inderdaad die tekort aan ruimte oplos wat tans ondervind word en die aktiwiteite van die raad stroomlyn om meer doeltreffend in sy dienvoorsiening te wees,” het mnr. Mensah gesê. Die planne vir die gebou is reeds goedgekeur.