8.07.2008 Sakelui en stamleiers span saam in Karas
“SAKELUI het die idees en voorstelle vir ontwikkeling, en tradisionele leiers het die idees vir oorlewing, maar daar was nog nooit ’n platvorm vir die twee kampe om saam te sit en hulle voorstelle saam uit te voer nie.” Dié kommunikasiegaping, sê dr. Abraham Iyambo, Minister van Visserye en Mariene Hulpbronne, veroorsaak al jare lank ’n leemte in ontwikkeling in die Karasstreek en veroorsaak dat inwoners aanhou sukkel.
Dr. Iyambo tree op as voorsitter van ’n taakspan om die streek se inwoners maatskaplik en ekonomies op te hef en hy word ondersteun deur ander nasionale leiers soos mee. Ida Hoffmann, Hansina Christian en mnr. John Walenga. Hulle het verlede maand ’n eerste rondte samesprekings met leiers van die streek gehad om hulself vertroud te maak met die huidige situasie in die streek en watter proses hulle moet volg om ’n verskil te maak.
In ’n onderhoud met Suiderland het dr. Iyambo gesê ’n opvolgvergadering is vir 11 Julie geskeduleer, waartydens sakelui van uitsoekmaatskappye en tradisionele leiers van die streek sal saamspan om oplossings te formuleer. “Die doel van die vergadering is om ’n atmosfeer van kommunikasie te skep sodat die twee groepe leiers kan beraadslag. Nie net nou nie, maar ook in die toekoms,” het dr. Iyambo gesê.
Volgens hom is die enkele grootste probleem die feit dat geen geleenthede in die verlede geskep is vir die private sektor en tradisionele leiers om kwessies aan te spreek wat die ekonomiese oorlewing van die inwoners van die streek sal bevorder nie. “’n Mens kan nie die feit dat die Karas-streek ’n ekonomiese reus is, miskyk nie, maar daar is vreeslik baie werkloosheid en armoede. Daarom moet leiers saamwerk,” het die Minister gesê.
|