19.08.2010 RRA en UPM werk geensins saam
 Mnr. Lukas de Klerk (regs), voorsitter van Rehoboth se Belastingbetalersvereniging, saam met tesourier Leonard Pienaar (links) en segsman Ernst Körner (middel).
SAAMSTAAN tussen Rehoboth se Belastingbetalersvereniging, die RRA, en die nuwe United People’s Movement (UPM) is van die baan vir November se dorpsraadverkiesing. Langdurige samesprekinge oor moontlike samewerking het vroeg in Julie finaal op die rotse geloop, het mnr. Lukas de Klerk, voorsitter van die RRA op ’n nuuskonferensie in Windhoek gesê, omdat die UPM “meer besorg was om in beheer te wees.”
Die afspraak met die media is spesifiek belê om alle gerugte van samewerking die nek in te slaan. Luidens mnr. De Klerk kan die RRA as deel van wyle Basterkaptein Hans Diergaardt se nalatenskap – in 1997 gestig met die spesifieke doel om alle inwoners oor etniese grense heen te verenig – nie in een kooi saam met die “politieke opportuniste” klim wat agter die UPM sit nie.
“Die UPM is gestig en geregistreer om die mense van Rehoboth te verdeel,” het mnr. De Klerk gewaarsku. Die gees van verdeling, sê hy, is al ’n paar jaar gelede deur mnre. Bismarck van Wyk, Piet Junius en John McNab – volgens die RRA die meesterbrein agter die UPM – aangesteek.
“Hulle kom weer om die mense te verdeel wat deur wyle Kaptein Hans Diergaardt in oorwinning verenig is,” was mnr. De Klerk se verduideliking hoekom Rehobothers die nuwe beweging liewer afsydig moet behandel.
“Hulle het gevra dat ons by hulle moet aansluit,” het mnr. Jan van Wyk, voorsitter van die UPM, hul kant van die saak gestel. “Selfs saam met die APP (All People’s Party) kon hulle maar net ’n handjievol stemme trek,” het hy benadruk.
“Dit is net nie logies om ons gewig agter die RRA in te gooi nie.
“Ons het hulle genooi om by ons aan te sluit,” het mnr. Van Wyk verduidelik.
Volgens hom is die RRA gevra om aan die UPM se kongres deel te neem, waar die party sy kandidate sal nomineer, maar het hulle nooit op die uitnodiging geantwoord nie. Volgens mnr. De Klerk is mnre. Junius en McNab – buiten vir laasgenoemde se bedenklike status as sogenaamde Basterkaptein – pure rondvallers wat nie in die DTA of Swapo die pyp kon rook nie.
“Hulle is sommer verkleurmannetjies wat drie keer verkleur het in ’n paar maande,” het hy die draak gesteek met die UPM se jongste gedaanteverwisseling nadat hulle eers as die Eenheidsbeweging en toe die Rehoboth Democratic Movement (Reho-DM) bekend was.
Mnre. Junius, Willem de Klerk en me. Katrina Benz, dring die RRA aan, moet verduidelik hoe hulle lede van beide die DTA en UPM kan wees. “Jy kan mos nie aan twee politieke partye behoort nie,” het mnr. Ignatius Shixwameni van die APP uit sy leuenstoel ’n stuiwer in die armbeurs gegooi.
Die APP sal die RRA se kandidate vir die dorpsraad ondersteun. Hoewel die RRA betwis dat die UPM ’n skriftelike samewerkingsooreenkoms met die DTA het, is die dokumente volgens mnr. Van Wyk wel op 8 November verlede jaar onderteken.
Die RRA, sê mnr. De Klerk, beplan ’n nuwe deurbraak nadat hulle in 1998 vier setels op die dorpsraad verower het.
“Ons getalle groei by die dag,” het hy verseker.
“Ons het veldwerkers wat mense se name opskryf.”
Mnr. De Klerk het veral die jeug gevra om by die vereniging aan te sluit en as kiesers te registreer.
“Ons jeug is besig om vervalle te raak. ’n Entjie van my huis af is nou weer ’n daggahuis,” het hy vertel.
Volgens mnr. De Klerk staan kinders al voor skool tou om dagga en pille te koop. Die RRA het ’n beroep op die Regering en parlementariërs gedoen om die partylysstelsel vir die verkiesing van plaaslike owerhede gou af te skaf “sodat ons die ware verteenwoordigers en ons eie kandidate kan kies,” het mnr. De Klerk verduidelik.
|