24.5.2012
 Argiewe:

Suiderland


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

7.09.2010

Rolprentdorp gaan geproklameer word


Die terrein waar die rolprentstad opgerig sal word.

’n VISIE om Namibië as die rolprentvriendelikste land ter wêreld te ontwikkel, is deur Desert Star Studios and Motion Picture Resort bekend gemaak toe die maatskappy aangekondig het dat dit buiten vir Desert Star South, planne het om ook verdere rolprentbestemmings in ander streke te ontwikkel. Intussen sal Desert Star South se nedersetting geproklameer word om ontwikkeling hier moontlik te maak.

Desert Star South is op drie plase, naamlik Jericho, Stolzenfelz en Komsberg in die Karas-streek geleë en strek oor ’n totale oppervlakte van sowat 23 000 hektaar.

Volgens die dorpsbeplanner van Desert Star, mnr. Gerhard van der Merwe, sal met dorpsontwikkeling na proklamering en wel met fase 1 van Desert Star begin word.

'n Voorstelling van die ontwikkelingsgebied vir die Desert Star Studios in die Suide.

Dit sal voortgesit word met die ontwikkeling van ’n volwaardige ondersteuningsdorp wat op die plaas Jericho tot stand sal kom. Die ondersteuningsdorp sal uit bykans 10 000 erwe bestaan en sal uiteindelik tot sowat 50 000 inwoners huisves.

Die dorp sal egter met tyd ontwikkel word en na skatting sal dit tussen vyf en tien jaar duur. Die hoof uitvoerende beampte van Desert Star, mnr. Rudolf Markgraaff, het aan Suiderland gesê dat die rede vir die ontwikkeling van die ondersteuningsdorp is om infrastruktuur te ontwikkel en Namibiese diensverskaffers by Desert Star South te vestig wat kan deelneem aan die proses en om dienste tydens die ontwikkeling te verskaf.

“Met elke rolprent word baie ander dienste benodig en in plaas daarvan dat ons dit van Upington kry, wil ons eerder die land se diensverskaffers betrek,” het mnr. Markgraaff verduidelik.

Tydens ’n inligtingsessie vir die media is ’n voorlegging oor die ontwikkelingstrategie van Desert Star gedoen en die verskillende fases van die US$1 miljard Desert Star South-projek verduidelik.

Die maatskappy se onderliggende volhoubare ontwikkelingsraamwerk was ook bespreek sowel as die verwante sosioëkonomiese voordele wat die projek inhou.

Die maatskappy het sy planne bekend gemaak om landwyd uit te brei as ’n logistieke ontwikkeling van sy visie om Namibië in een van die wêreld se mees dinamiese en volledige rolprentbestemmings te ontwikkel.

Desert Star is tans besig om sy hoofkantoor in Windhoek te vestig wat ’n belangrike rol in die uitbreidingsproses sal speel en sal verseker dat dit ten nouste met die Regering, rolprentvervaardigers en toerismevennote kan saamwerk.

Benewens Desert Star South en die hoofkantoor in Windhoek is streke wat vir uitbreidings geoormerk is, Desert Star Visrivier Spoelvallei, Desert Star Sossusvlei, Desert Star West (kusstreek), Desert Star East (Kahalari) en Desert Star North (Okavangorivier). Mnr. Markgraaff sê dat die Suide altyd die middelpunt van Desert Star sal wees.

“Die uitbreiding van die rolprentbestemmings sal Namibië die mees verfilmde land in die wêreld maak.”

Vir elke N$1 miljoen wat direk aan rolprente bestee word, word 11 werkgeleenthede geskep. Mnr. Markgraaff het as voorbeeld verwys na “The Lamb” wat ’n projek van N$560 miljoen is.

Wanneer dit vermenigvuldig word met die 11 werkgeleenthede wat dit sal skep, plus die 500 ekstra akteurs waarna vir die rolprent gesoek word, is die invloed van ’n rolprent baie duidelik.

Die voorgestelde ontwikkeling is gebaseer op ’n uiters suksesvolle strategie deur die Marokkaanse regering. Quarzazate, voorheen ’n klein oase in die woestyn, is vandag ’n besige stad met meer as 80 000 inwoners wat reeds 42 internasionale rolprentproduksies gelok het.

Die doel is om Marokko se voorbeeld te volg en dit vir rolprentvervaardigers moontlik te maak om sonder moeite rolprente by Desert Star te kan vervaardig. Dit word beoog dat die grens tussen Namibië en Suid-Afrika binne die Desert Star-sone “oopgemaak” sal word om vrye vloei van kundiges, toeriste en verwante goedere en dienste toe te laat.

Toeriste sal ook in staat wees om die eerste rolprentoord van sy soort te besoek. Buiten verskeie ontspanningsaktiwiteite wat wissel van buitemuurse restaurante tot sportaktiwiteite, sal die belangrikste aantrekking toere na die ateljees en rolprentstelle wees.