8.07.2008 Preston verras op Rehoboth
PRESTON jou doring! Dié wonderperd het onlangs vriend en vyand op Rehoboth verras met ‘n blink vertoning op die bane van die Perderesiesklub. Die eiennaar, Tyrone Plaatjie, het breed geglimlag nadat die sewejarige hings Preston die hoofwedren gewen en behoorlik sand in die oë van die gunstelinge geskop het.
Hy het oor 1 800 meter gewys dat hy en sy jokkie, die uitgeslape Concrete Bohitile, nog lank nie afgeskryf mag word nie. Albei het die ervaring om vir nog ‘n jaar of twee die titels in te ryg. Bohitile het by die stalle van Rehoboth Perderesiesklub aan Suiderland gesê: “Ek het hulle stil gejaag, veral die groot bek van Kapenaar Diergaardt.
“Daar wag nóg ‘n groter verrassing op teenstanders wanneer die heel grote in Desember op Swakopmund gehou gaan word. “Dit was maar ‘n voorsmakie – wees daar op 27 Desember en dan sal jy weet dat ek nie grootpraat nie, maar die ding op die baan doen. “Wanneer ek klaar is met Diergaardt en sy perd Iris Assembly sal hulle ‘Irish Stew’ wees.”
Die gunsteling, Time Bomb, het ook deurgeloop op Rehoboth. Dis die perd wat voor die wedren al die aandag gekry het en in plaaslike koerante met lof toegegooi is. Maar Time Bomb se tydsberekening was nie reg nie, en ‘n derde plek is waarmee eienaar Bobby van Wyk tevrede moes wees.
Dalk hou Bobby ook sy troefkaart vir die volgende wedren? Die minderbekende Golden Aim het goed gehardloop en in die tweede plek oor die eindstreep gestorm. Perdekenners waarsku egter dat Kapenaar Diergaardt en Irish Assembly ‘n gedugte kombinasie vorm en sterk kan terugkom. “Hulle het verlede jaar op Swakopmund met die medaljes en kontantpryse weggehol. Dit sal ‘n duur fout wees om hulle te onderskat.”
Tydens die eerste wedren op Rehoboth het die stalmaats Young Sid en Council Chamber, beide van Daniel Beukes, skoonskip gemaak toe hulle onderskeidelik eerste en tweede geëindig het. Die twee perde van Hendrik van Niekerk het gewys dat Gobabis kampioene kweek toe Ginger Pop en Beauty die wedren vir Namibies geteelde perde oor 800 meter ingeoes het.
In die graduasie-wedren oor 1 600 meter was die Sportsworld- merrie Javelin te goed vir Council Chamber en Angels One Five. Die spanning loop hoog tussen jokkies en eienaars vir die Windhoek July Handicap, waar groot name soos King’s Lodge en Blue Flag mekaar gaan aandurf. Die organiseerders is oortuig dat die wedren op Rehoboth ‘n reusesukses was en dat toeskouers ‘n groot bydrae lewer tot die vordering en sukses van perdewedrenne.
|