8.07.2008

Plaas knap karakoelkennis op

© Francios Olivier
Karakoelskape op Gellap Ost, die enigste regeringskarakoelplaas in Namibië, wat ook as opleidingsentrum vir dié bedryf dien.
GELLAP Ost, die enigste karakoelplaas van die Regering, is nie net ’n plaas nie, maar dien ook as ’n opleidingsentrum vir karakoelboere. Die opleiding, wat in samewerking met die Karakoelraad aangebied word, blyk suksesvol te wees uit die terugvoering wat mnr. Johan van der Merwe, plaasbestuurder, van verskillende boere ontvang.

Volgens hom stuur boere gereeld hul werkers en raak dit toenemend gewild. “Die opleiding is oop vir almal,” het mnr. Van der Merwe gesê. Dit word drie tot vier keer per jaar aangebied en suksesvolle studente ontvang ’n sertifikaat. Beginners met geen ondervinding in karakoelboerdery nie, asook diegene wat geen boerdery-ondervinding in die algemeen het nie, kan ook die kursus bywoon.

Dit is gratis en strek oor vier dae. Die standaardkursus vereis ’n slaagpunt van 60%, terwyl die meer gevorderde kursus ’n slaagpunt van 70% het. Vir meer inligting omtrent die kursus en die plaas self, skakel mnr. Van der Merwe by 081 229 5936 kontak.