8.07.2008 Oranjemund streef na dorpstatus
INDIEN niks onvoorsiens gebeur nie en alle betrokke partye nou saamwerk, kan Oranjemund aan die einde van die jaar dorpstatus kry. “Ons het ’n les by ander myndorpe geleer dat proklamasie nie iets is waarmee ’n mens té haastig moet wees nie, maar dit moet eerder stelselmatig gebeur, in ag genome die belanghebbendes, die omgewing en die Regering se hulpbronne.”
Me. Inge Zaamwani-Kamwi, besturende direkteur van Namdeb, het onlangs op ’n uitlating reageer van parlementslid Ben Ulenga, president van die Congress of Democrats (CoD), wat gesê het Oranjemund is ’n “private plaas van De Beers”. “Inteendeel, Oranjemund is ’n lewendige dorp met meer as 10 000 inwoners. “Ons werk al maande lank hard saam met die betrokke owerhede om te laat proklameer,” het sy gesê.
As deel van Namdeb se strategiese plan word Oranjemund voorberei om as ’n ope dorp te funksioneer. “Ons het reeds ’n voorloper vir ’n munisipaliteit, te wete die Oranjemund Dorpsbestuurs-maatskappy. Saam met die lynministeries poog ons om die dorp later vanjaar te proklameer. “Dié inisiatief bied uiteraard baie uitdagings. “Een daarvan is om die dorp volhoubaar te maak wanneer diamandmynaktiwiteite eendag uitgedien is,” het me. Zaamwani-Kamwi gesê.
|