8.07.2008 Op die spoor van die bruinhiëna
OM bruinhiëna se kind in die Koichab-duinegordel te volg en gereeld te monitor, is g’n maklike taak nie. Tog is die Bruinhiëna-navorsingsprojek (BHN) vol moed oor die projek en beoog hulle om binnekort nóg drie hiënas in die omgewing van nekbande te voorsien.
Oona, ’n bruinhiëna-wyfie, is aan die einde van verlede jaar van ’n nekband voorsien en dusver het die BHN al hulle dae om haar tussen die duine, by die Tirasberge of op die rand van die Namib-Naukluftpark op te spoor. “Aanvanklik het ons ’n vliegtuig probeer, maar ons kon haar nie kry nie. Ons het oor die hele Koichab-gebied gevlieg waar sy gewoonlik rus, maar niks,” vertel dr. Ingrid Wiesel, projekleier.
Sy het verduidelik hoe hulle verder na die Tirasberge gevlieg en uiteindelik suid van die berge ’n sein opgetel het. As gevolg van die baie duine wat die sein afgesny het, het die aflaai van data moeilik gegaan. “Die bietjie inligting wat beskikbaar is, wys dat sy baie tyd in die omgewing bestee. Nou weet ons minstens waar om weer te gaan soek.”
Dr. Wiesel en ’n vrywilliger het Oona ’n ruk later met ’n voertuig gaan soek, maar kon haar nêrens kry nie. Nou beplan hulle om weer met ’n vliegtuig oor te vlieg en nog twee ander bruinhiënas én ’n gevlekte hiëna van nekbande te voorsien. Die interaksie tussen hiënas en die wilde perde wat in die omgewing hou, is een van die dryfkragte agter die projek.
Die perdekenner, dr. Telané Greyling, het al verskeie kere spore van hiënas gesien en selfs van dié roofdiere gewaar. Volgens haar hou die hiënas hoofsaaklik in die Khoichab-riviergebied sowat 80 km noord van Garub waar die perde suip. In hulle woongebied hou baie gemsbokke, springbokke en volstruise. Wanneer die diere begin migreer, kan die hiënas straks na ander prooi in die gebied van die wilde perde soek, reken dr. Greyling. Die Sukkulente Karoo-ekostelselprogram (Skep) het twee van die nekbande voorsien.
|