15.11.2011 Neckertaldam ’n werklikheid vir Keetmanshoop
 Die totale koste van die Neckertaldamprojek beloop tussen N$3 miljard en N$3,5 miljard en kan met die aanvang van die boufase ’n stewige geldelike inspuiting van meer as N$4 miljoen per maand in die kwynende Keetmanshoop pomp. Dié foto is van ’n skaalmodel.
TERWYL een van die grootste en opwindendste bouprojekte die afgelope twee dekades in die land besig is om naby Keetmanshoop beslag te kry, is dit asof inwoners van die Suidedorp nog nie besef dat hulle sal moet spring om vir die invloei van mense en ’n gepaardgaande aanvraag na dienste gereed te wees nie.
Intussen heers groot afwagting oor wie die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou en sy span van raadgewende ingenieurs as suksesvolle tenderaar gaan aanstel. Vertroulik is verneem dat minstens drie tenderaars se prysstrukture baie naby mekaar gelê het en dat slegs ’n fyn evaluasie sal kan bepaal wie suksesvol gaan wees. Die keuringsproses sal blykbaar einde November afgehandel wees.
“Indien die tender soos soveel ander groot projekte in die land aan buitelandse kontrakteurs toegeken word, is die projek van meet af gedoem. Andersins kan dit ’n groot ekonomiese inspuiting vir ons hele streek tot gevolg hê,” het ’n vooraanstaande sakeman van Keetmanshoop opgemerk.
Kontrakteurs is reeds sedert Junie vanjaar besig met die bou van ’n toegangsroete na die damterrein terwyl Nampower ook met die aanlê van ’n kraglyn daarheen besig is. Dié projekte asook die vestiging van ’n gruisgroef vir die betonaanleg wat nodig gaan wees vir die bouprojek, kan teen einde Januarie voltooi wees.
Mnr. Harald Koch van die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou, staan aan die hoof van die Neckertaldamprojek en volgens hom gaan die dam ná voltooiing minstens drie keer groter as die Hardapdam wees en byna 20 keer so groot soos die Von Bachdam naby Okahandja. Die opvanggebied van die Neckertaldam is sowat 45 620 km² met ’n gemiddelde jaarlikse invloei van 535 miljoen m³. Die gekompakteerde betondamwal sal na raming 67,5 meter hoog wees met ’n totale lengte van 497 meter. Die verwagting is dat die dam sowat 857 miljoen m³ water sal kan dra en oor ’n totale afstand van 39 kilometer sal terugstoot.
Koch sê volgens die omgewingsimpakstudie wat uitgevoer is, sal ’n strook van sowat 5 000 hektaar langs die teerpad tussen Seeheim en Keetmanshoop geskik wees vir besproeiingsdoeleindes.
Die boufase van die dam is 36 maande en kan tussen 1 000 en 1 500 bykomende werkgeleenthede skep.
Koch sê sodra ’n kontrakteur aangestel word, sal dié maatskappy homself moet mobiliseer, kamp opslaan en dan eers kan met die konstruksiefase begin word. Dié proses kan drie maande of langer duur.
“Wat landbou betref, gaan die 5 000 ha beskikbare grond wat geskik is vir gewasverbouiing, opgedeel word in eenhede van 50 hektaar wat sal meebring dat met die voltooiing van die projek, 100 besproeiingsplase beskikbaar sal wees,” het hy gesê.
Lusern, dadels en in ’n mindere mate tafeldruiwe, sal volgens die impakstudie goed in die klimaatsomstandighede en grond aard. Die gebied is blykbaar ook geskik vir sitrusverbouing, maar volgens Koch sal boere nie tot die gewasse beperk word nie.
Op ’n vraag oor wie geoormerk is om landbougrond op die Neckertalskema te bekom, het hy gesê streng voorwaardes gaan aan voornemende aansoekers gestel word.
“Ons gaan ’n advertensieveldtog oor die beskikbaarheid van die besproeiingsgrond van stapel stuur en aansoekers sal aan sekere voorgeskrewe kriteria moet voldoen om in aanmerking te kom,” het hy gesê.
Die Ministerie beoog om in Julie aanstaande jaar met die ontwikkeling van die besproeigrond te begin. Dit behels die aanbring van dreineringstrukture, die gereedmaak van grond om op te plant en om krag en besproeiingswater by elke kleinhoewe beskikbaar hê.
Die eerste 2 000 ha moet klaar wees wanneer die dam voltooi word (na drie jaar) terwyl die oorblywende 3 000 ha eers daarna voltooi gaan word.
“Ons voorsien dat 12 000 tot 12 500 bykomende werkgeleenthede geskep gaan word wanneer die skema voluit benut word,” het hy gesê.
|