24.5.2012
 Argiewe:

Suiderland


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

7.09.2010

Naute-projek word groter

© Tammy Kleinhans
Mnr. Pieter de Wet van die NDC aan die woord.

TYDENS ’n besoek aan die Naute-projek het die President sy ingenomendheid uitgespreek met uitbreidings wat oor die afgelope jare by die projek plaasgevind het.
© Tammy Kleinhans
Pres. Pohamba en sy vrou, Penehupifo, luister aandagtig terwyl daar vertel word oor die Naute-projek.
President Hifikepunye Pohamba het onlangs ’n toer van die projek onderneem en is ook na die toekomstige Al-dahara/NDC-Dadelpalmontwik-kelingsgrond geneem, waar dadelpalms moontlik teen begin volgende jaar aangeplant sal word.

Die President is ingelig oor die Naute-projek se huidige en toekomstige aktiwiteite en planne oor verdere uitbreiding van die projek is bekendgemaak.

Volgens mnr. Pieter de Wet, senior bestuurder van landbou by die Namibiese Ontwikkelingskoöpo-rasie (NDC), sal die totale ontwikkeling van die Naute-projek uiteindelik uit 650 hektaar onder besproeiing bestaan.

Die algehele ontwikkeling van die projek sal sowat N$100 miljoen beloop aangesien bykomende pakhuise en vriesgeriewe onder meer gebou moet word. Volgens mnr. De Wet moet die bestaande Naute-projek in ’n kommersiële projek omskep word.
© Tammy Kleinhans
Pres. Pohamba bestudeer die druiwe-plantasie.
Dit hang dus van finansies af wanneer die uitbreidings sal plaasvind. Dit sal 2 500 werkgeleenthede skep waarvan 1 000 permanente poste sal wees.

Tans is 135 hektaar by die Naute-projek met vier soorte vrugte naamlik dadels, tafeldruiwe, granate en turksvye, beplant. Intussen bestaan die Al-dhahra /NDC dadelpalm-ontwikkeling uit 180 hektaar dadelpalms en 20 hektaar tafeldruiwe.

Die ontwikkeling behoort weer 1 000 poste te skep waarvan 4 00 permanent sal wees.

Mnr. De Wet het voorts gesê dat behuising vir werkers ’n groot probleem by die projek is. Hy meen dat met die nuwe ontwikkelinge by die projek dit tot ’n klein nedersetting sal uitbrei. “Ons moet in die rigting van ’n klein dorpie begin dink.”

President Hifikepunye Pohamba doen die Nama-stap toe hy onlangs die Naute-projek besoek het.
Pres. Pohamba het gesê dat hy baie beïndruk is met wat hy tydens sy besoek gesien het in vergelyking met ’n paar jaar gelede toe hy daar was. Hy het bygevoeg dat die besoek deel vorm van sy werk as voorsitter van SADC om vas te stel wat Namibië doen in verband met voedselproduksie en om daaroor terugvoer te gee.

Hy het daarop klem gelê dat die Naute-projek deel uitmaak van die land se poging om voedselproduksie te verhoog en dit werklik help om die land in ’n dadel en druiwe produserende land verander. Volgens hom het lidstate van SADC hulle voorgeneem om binne vyf jaar nie ’n enkele kind te hê wat as gevolg van ’n tekort aan kos sterf nie.

“Die werk wat julle hier doen, is wat ons wou gesien het. Dit is baie belangrik,” het Pres. Pohamba gesê.

Dadelpalms word op 80 hektaar by die Naute-projek aangeplant waarvan 30 hektaar onder volle produksie is. Vanjaar is 250 ton dadels geoes en hoofsaaklik na Europa uitgevoer. Dit word beoog om die dadelplantasie na 230 hektaar uit te brei.

Veertig hektaar op die projek staan onder tafeldruiwe waarvan 30 hektaar in volle produksie is. Verlede jaar is 80 000 kartonne druiwe van 4,5 kg elk geoes. Mnr. De Wet sê dat dit moontlik teen 2011 tot 120 000 kartonne sal toeneem terwyl dit beoog word om die wingerde tot 120 hektaar uit te brei. Die turksvye en granate is beide redelike nuwe inisiatiewe.

Tans word sestien variëteite turksvy op 1,7 hektaar plantasie op ’n proefgrondslag geplant. Die plant was nog nie uitgevoer nie aangesien sy produksie nog te laag was en dit dus nog net plaaslik versprei word. Buiten dat die plant vir sy vrug gebruik word, kan die blare ook as voeding vir diere dien.

Volgens mnr. De Wet kan die plant 20 ton nat blare per hektaar per jaar voorsien wat vir dierekos gebruik kan word. Die ander voordeel van die plant is dat dit ’n baie lae behoefte aan water het. Dit word dus beplan om die turksvye tot 30 hektaar uit te brei.

Die drie variëteite granate wat vanaf Israel ingevoer is en op tien hektaar by die projek geplant is, sal tot 100 hektaar uitgebrei word. Dit word selfs beoog om ’n aanleg op te rig om sap te vervaardig. Mnr. De Wet sê dat 150 ton dadels tans uitskot is en dus nie reg vir uitvoer is nie.

“Die volumes raak net te groot om weg te gooi. Ons sal kyk om al die vrugte te gebruik, al is dit net vir dierevoeding.”

Intussen sal olywe, macadamianeute en sitrus vanaf hierdie jaar aangeplant word. Veral sitrus het ’n baie goeie mark en dit pas ook baie goed in by die beplande versappingsaanleg, sê mnr. de Wet.