8.07.2008

Naute bied iets vir elke smaak


Die Nautedam.
DIE Nautedam, die tweede grootste dam in Namibië naas die Hardapdam, is tussen 1970 en 1972 gebou en amptelik op 9 September1972 ingewy. Dié dam, met ’n kapasiteit van 83 miljoen kubieke liter water wat in die Löwen-rivier gebou is, kry sy die invloei uit die opvanggebied aan die oostekant in die omgewing van Koës en Aroab.

Die Hardapdam, daarenteen, het ’n inhoudsvermoë van sowat 300 miljoen kubieke liter water. Die dam ontvang sy invloei veral vanaf Februarie tot April en sodra die kapasiteit 110% oorskry, word die sluise oopgemaak. Hierdie oortollige water vloei tot in die Visrivier, suidwaarts tot in die Oranjerivier aan die grens met Suid-Afrika.

Dan vloei dit verder weswaarts tot dit die see by Oranjemund bereik. Die dam is gebou met die gedagte om water aan Keetmanshoop te voorsien. Die water word deur NamWater gepomp, by die suiweringsaanleg gesuiwer en dan in die opgaardamme naby die dorp gestoor voor dit na die dorp versprei word. In 1990 is ’n projek van stapel gestuur om dadels op die stuk grond wes van die damwal aan te plant.

Dit word deur Naute Fruit Farms bedryf. In 1995 is nog ’n besluit geneem om die vrugbare stuk grond uit te brei en meer ekonomies te bedryf – en dit is gedoen met die aanplanting van ’n wingerd tafeldruiwe. Om voorsiening te maak vir die uitvoer van dadels en druiwe is ’n pakhuis opgerig wat aan die vereistes en standaarde van die Europese Unie voldoen.

Nog ’n stuk grond van 2 300 hektaar rondom die dam is in 1998 as ’n wildreservaat geproklameer. Daar word springbokke, koedoes, klipspringers, gemsbokke en volstruise beskerm – terwyl ’n groot aantal voëlsoorte ook daar nes maak. Hierdie wildreservaat is tot dusver nog nie oop vir besoekers nie, maar die bykans 600 hektaar aan die suidekant van die dam is opsygesit vir die publiek om vis te vang en boot te roei.

Daar is ’n uitkykpos langs die dam. Die Nautedam behoort aan NamWater, maar die geriewe word aan private eienaars verhuur wat oornagkampeerders en dagbesoekers ontvang. Skoon toilette, braaiplekke, ’n plek om voëls dop te hou, ’n visvangplek en ’n staproete met 24 uur-sekuriteit en toegangsbeheer is ook beskikbaar.