8.07.2008 Munisipaliteit op Keetmans vol planne
DIE herwaardering van eiendomme op Keetmanshoop begin op 10 Julie, het mnr. Bertie Reynecke, waarnemende hoof uitvoerende beampte van dié dorp se munisipaliteit, bevestig. Dié proses geskied elke vyf jaar, maar volgens mnr. Reynecke is die munisipaliteit reeds ’n jaar agter daarmee.
Hy het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om nie mense sonder identifikasie én ’n magtigingsbrief van die munisipaliteit in hul huise toe te laat nie. Volgens mnr. Reynecke is die munisipaliteit se begroting vir die finansiële jaar wat voorlê, nog nie klaar opgestel nie. Voorlopig kan hy egter meld dat 15% van die begroting vir infrastrukturele ontwikkeling geoormerk is.
Spesifieke projekte is die teer van strate, oprigting van ’n nuwe begraafplaas en beter beheer oor die vullisstortingsterrein. Planne om ’n nuwe inkoopsentrum op te rig, is egter eers op die langebaan geskuif. “Swak ekonomiese toestande, hoë rentekoerse en -lewenskostes is die oorsaak van dié vertraging,” aldus mnr. Reynecke.
’n Tweede ontwikkelaar stel glo belang in die inkoopsentrumprojek, maar meer besonderhede hieroor is nie tans beskikbaar nie. “Ons streef na ’n positiewe verhouding tussen die munispaliteit en die gemeenskap,” het mnr. Reynecke gesê. Hoewel die plaaslike owerheid voorsiening maak vir mense om hul mening te lug deur voorstelle in ’n spesiale houer daarvoor by die munisipaliteit te gooi, maak die gemeenskap beswaarlik ge-bruik daarvan.
Hy het opnuut ’n beroep op hulle gedoen om met die munisipaliteit te praat “sodat ons die behoeftes van die dorp kan identifiseer en daarvolgens ons beplanning doen”. Mnr. Reynecke sê geldelik is die munisipaliteit besig om te herstel. “Ons hoop om volgende jaar hierdie tyd ’n beter boekjaar te het,” meen hy.
|