24.5.2012
 Argiewe:

Suiderland


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

8.03.2010

Miljarde hektaar vir toeriste


Die beplande Laer-Oranjerivier Oorgrensbewaringsgebied sal van noord na suid vanaf Keetmanshoop tot by Garies strek, en van wes na oos van die kus tot by Kakamas.
TYDENS die eerste Park Talk vanjaar is die onlangse vooruitgang van die /Ai-/Ais-Richtersveld Oorgrenspark (ARTP) en die toekoms van die Laer-Oranjerivier Oorgrensbewaringsgebied (LOR TFCA) bespreek. Park Talk is deur die Versterking van die Beskermde Gebiede-netwerk (SPAN) en die Ministerie van die Omgewing en Toerisme aangebied, met die internasionale koördineerder van die /Ai-/Ais-Rich tersveld TFCA van die Vredesparke- stigting, mnr. Karl Aribeb, wat ’n praatjie gelewer het.

Die /Ai-/Ais-Richtersveld Oorgrenspark is op 16 Oktober 2007 amptelik op Sendelingsdrift geopen. Die ARTP sluit in die /Ai-Ais Warmbronne Wildpark in Namibië en die Richtersveld Nasionale Park in Suid-Afrika. Die grootte is 604 500 hektaar met 442 000 hektaar in Namibië en 162 500 hektaar in Suid-Afrika. Polisiekantore, immigrasiegeriewe en ’n pont maak deel uit van die infrastruktuur. Die pont word tot September vanjaar deur SanParke bestuur.

’n Gemiddeld van 350 voertuie en 750 besoekers per maand, van wie 80% van Suid-Afrika is, maak gebruik van die pont. “Dit is egter moeilik om te bepaal of die besoekers toeriste is of mynwerkers van Oranjemund wat net deurreis,” het mnr. Aribeb gesê. “Die pont lewer sowat N$180 000 per maand, maar dit word bedryf teen ’n verlies van sowat N$200 000 per jaar.”

Tydens die reënseisoen wanneer die watervlakke in Februarie en Maart styg, word die pont nie gebruik nie. Nuwe ontwikkelinge word beplan en in 2006 het die Bilaterale Gesamentlike Bestuursraad (JMB) besluit op die vestiging van ’n oorgrensbewaringsgebied (TFCA) tussen Namibië en Suid-Afrika, naamlik die Laer-Oranjerivier Oorgrensbewaringsgebied (LOR TFCA) wat 11 miljard hektaar sal beslaan.

Die LOR TFCA sal van noord na suid vanaf Keetmanshoop tot by Garies strek, en van wes na oos van die Namibiese kus tot by Kakamas. Daar is drie oorgrensbewaringsgebiede in Namibië, naamlik die Kavango- Zambezi Oorgrensbewaringsgebied (KAZA) met vyf lande, Angola, Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe betrokke; die /Ai-/Ais- Richtersveld Oorgrenspark (ARTP); en die Iona-Skedelkus tussen Namibië en Angola. Drie studies oor die LOR-TFCA is ook in 2006 in beide Namibië en Suid-Afrika gedoen wat breër rolspelerdeelname insluit.

Twee saamgestelde bewaringsontwikkelingsplanne (ICDPs) en ’n Laer-Oranjerivier bestuursplan (LORMP) is in die studies ingesluit. Die doel van die studies was om die volhoubaarheid van die vestiging van ’n TFCA aangrensend aan die ARTP te bepaal. Volgens die studies wat in 2008 voltooi is, is bevind dat dit wel volhoubaar is, veral met die oog op diversiteit, kulturele en sosioëkonomiese redes.

Gegrond daarop het die JMB die vestiging van die TFCA aanbeveel en ondersteuning van die twee ministers gevra. ’n Saamgestelde ontwikkelingsplan (IDP) vir die LOR TFCA is aan die ministers voorgelê wat gegrond is op die toegang, gebruik, ontwikkeling en infrastruktuur van die intervensie en ’n meesterplan vir die ontwikkeling en die bestuur van die TFCA. ’n TFCA Toerisme Ontwikkelingsplan is ook gefinaliseer om ’n strategie te skep om die toerismepotensiaal te ontsluit.

’n TFCA-handelsmerk en ontwerp moet gedoen word en ’n TFCA-bemarkingstrategie moet geïmplementeer word. Daar word ook geld gesoek om ’n brug oor die Visrivier te bou. Die gehalte van paaie en universele standaarde vir padtekens moet bepaal word. Wat kultuur en erfenis betref, moet ’n kulturele erfenisbepaling onderneem word en ’n kulturele hulpbronbestuursplan vir die hele TFCA voorberei word, volgens mnr. Aribeb.