8.07.2008

Mielies boer vooruit in Suide

© Francios Olivier
Werkers op een van die mielieplase buite Mariental.
MIELIEPRODUKSIE by Mariental het ’n blink toekoms, meen mnr. Gerhard van der Merwe, senior bestuurder by KaapAgri Namibië.

Dié sukses het egter swoeg en sweet gekos, het hy gesê. Suiderland het een van die mielieplase in die omgewing besoek en die stropingsproses eerstehands beleef.

Die spesifieke plaaseienaar het ’n nuwe stroopmasjien aangeskaf wat die proses sommer baie bespoedig. Dit stroop tussen 150 en 200 ton mielies per dag.
© Francios Olivier
Klaar gestroopte mielies reg om verder verwerk te word.


Mielies sal nog tot die einde van Julie verwerk word, waarna hulle ’n blaaskans sal vat voor die volgende proses weer in Desember op dreef kom.

Dié mielieplaas is 1 350 hektaar groot en “ons verwag om teen maandeinde tussen 13 000 en 14 000 ton mielies te verwerk,” aldus mnr. Van der Merwe. Die mielies word aan Bokomo Namibia en Namib Mills verkoop.