Suiderland


Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

8.03.2010

Melkplaas voorsien in behoefte


Vier-en-sestig koeie word tydens drie melkbeurte per dag gelyktydig gemelk.
DIE N$80 miljoen belegging wat deur Namibia Dairies van die Ohlthaver & List-groep van maatskappye gemaak was om die eerste super suiwelmelkplaas in Namibië tot stand te bring, het die maatskappy in staat gestel om in die groeiende aanvraag na melkprodukte te voorsien, veral wat uitvoer betref.

Die !Aimab Superplaas wat ’n paar kilometer buite Mariental geleë is, is een van die grootste melkplase in Suidelike Afrika en produseer tans sowat 34 000 liter melk per dag. Dit word beoog om die melkplaas verder uit te brei deur nog koeistalle aan te bou en die melkkoeie van die huidige 1 240 na 2 000 koeie te vermeerder.

Met die uitbreiding sal die produksie verdubbel en dit sal uiteindelik verseker dat 64 000 liter melk per dag gelewer word. Die reuse-aanleg sal in sowat 60% van Namibië se totale melkbehoeftes voorsien. Vier-en-sestig koeie word tydens drie melkbeurte per dag gelyktydig gemelk. Elke koei op die plaas word individueel met behulp van ’n rekenaarprogram bestuur.

Die program monitor elke koei gedurende die dag en verskaf onder meer inligting oor melkproduksie, liggaamstemperatuur en enige aanduidings van siektes of ongesteldheid. Aangesien geen bulle op die plaas aangehou word nie, word die koeie kunsmatig bevrug, ’n prosedure wat deur veeartse en spesiaal opgeleide tegnici uitgevoer word. Terselfdertyd hou hulle ook ’n ogie oor die diere se gesondheid.

Die eerste fase van die projek het N$80 miljoen gekos, maar teen volle kapasiteit sal dit sowat N$120 miljoen beloop. Volgens mnr. Cassius Moetie, bestuurder: korporatiewe sake, is Namibia Dairies in staat om die aanvraag in die plaaslike mark te bevredig, maar hulle is steeds besig om hul kapasiteit uit te brei om in die groeiende aanvraag na melk en -produkte in Namibië en die streek te voorsien.

Intussen het Namibia Dairies met die ondersteuning van die munisipaliteit van Mariental 54 huise teen ’n totale bedrag van N$3 miljoen vir personeel van die Superplaas gebou. Die finale werk aan die behuisingsprojek word nou afgehandel en dit is byna gereed vir die personeel om hul intrek te neem.