Suiderland


Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

10.08.2010

Lüderitz wil Sperrgebiet-pad oop hê

’n PETISIE is deur die sakegemeenskap van Lüderitz opgestel dat die Namdeb-dienspad oopgestel moet word om die dorp met Oranjemund te verbind. Die pad loop deur die Sperrgebiet.

Die petisionarisse beoog om steun by die Eerste Minister, die Ministeries van Myne en Energie asook van die Omgewing en Toerisme, sowel as die Namibiese Toerismeraad te werf om die proses aan die gang te sit.

Instellings soos die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid (NCCI) en sy takke op Oranjemund en Lüderitz, die LCCI en die Waterkantontwikkeling het reeds hul steun aan die petisie toe gesê. Ghost Town Tours het ook sy steun verklaar vir die skakeling van Oranjemund met Lüderitz via die Namdeb-dienspad.

“Ons het tans sowat 30 000 besoekers per jaar aan Kolmanskop.”

Lüderitz as ’n toeristebestemming ly ernstig onder die nadeel dat die “doodlooproete” die enigste toegang tot die dorp bied. Toeriste moet ’n 250 km ompad vanaf Aus en weer terug ry net om die dorp te besoek.

“Ná die resessie in die toerismebedryf staar ons ernstige uitdagings in die gesig en sommige operateurs dui aan dat hulle nie die luukse het om tyd te mors nie aangesien Lüderitz afbreuk doen aan hul Aus-Sossusvlei-Swakopmund skedule.”

Indien die pad oopgestel word, sal dit beteken dat Lüderitz nie langer ’n doodloopbestemming sal wees nie, aangesien die pad na Oranjemund en verder tot Alexanderbaai ’n nuwe roete beskikbaar sal stel wat met die Noord-Kaap skakel.

Die verwagte groot toename in toeristegetalle, meer werkgeleenthede en langer tyd wat toeriste op Lüderitz sal deurbring, sal die ganse gemeenskap bevoordeel. Ghost Town Tours is reeds deur die Noord-Kaapse Toerismeraad genader om te netwerk en toerismepakkette spesifiek vir die roete saam te stel, sou dit ’n werklikheid word.

Mnr. Ulf Grünewald, operasionele direkteur van die Nest Hotel, sê die argument was altyd dat die Sperrgebiet toe is en dat niemand daar mag ingaan nie.

“Die Sperrgebiet is tot ’n nasionale park verklaar, maar is steeds net so gesluit soos wat dit die afgelope 102 jaar was.”

Indien die Sperrgebietpark oopgestel word, kan dit ’n groot verskil aan die ontwikkeling en volhoubaarheid van Lüderitz en Oranjemund maak, sê hy. Mense insluitend toergidse wat daar woon, sal in staat wees om hul eie besighede te ontwikkel, maar ook vele ander interessanthede sal ontwikkel wat tans nie hier aangebied word nie.

Die Waterkant Ontwikkelingsmaatskappy het sy volle steun vir die oopmaak van die kusroete gegee.

“Ons is tans besig om die tweede fase van die Waterkantontwikkeling te bevorder waarvan die sukses met die toerismepotensiaal in die gebied gekoppel is. Die ontoeganklikheid van begeleide toere in die Sperrgebiet Nasionale Park is steeds ’n doring in die vlees.”

“Dit beperk enige betekenisvolle bevordering van toerisme en groei vir Lüderitz en sy naburige kusdorpe,” sê die hoof uitvoerende beampte van die Waterkant Ontwikkelingsmaatskappy, mnr. Fluksman Samuehl.

Volgens hom het die oopstel van die kusroete vanaf Lüderitz na Oranjemund via die Sperrgebiet nou baie dringend geword.

“Vertragings sal ons net ontneem om toerismevoordele te maksimaliseer. Sodoende bly die kusgemeenskappe in die gebied ekonomies gemarginaliseer, waar toerisme ’n belangrike inkomste vir ons lewensbestaan is.”

Op ’n vergadering wat Namdeb aangebied het om die gemeenskap oor sy toekomsplanne in te lig, is die kwessie oor die pad deur die Sperrgebiet ook bespreek. Namdeb se besturende direkteur, me. Inge Zaamwani-Kamwi, het gesê sy is bewus van die petisie en wil nie in die pad van vooruitgang staan nie.

“Ons moet egter steeds ons produk beskerm. Indien ’n genoegsaam gekontroleerde omgewing geskep word, sal ons nie in die pad staan nie.”

Tans moet Namdeb Lüderitz “dra” en deur die pad oop te stel, sal nuwe bedrywe geskep word. Dit is ’n wanopvatting dat Namdeb standpunt teen die oopstelling ingeneem het, sê sy.

Die burgemeester van Lüderitz, me. Emilia Amupewa, het bygevoeg dat daar vir ’n lang tyd reeds beroepe vir die oopstel van die pad is en dat dit ook met die lewensbestaan en werkskepping op die dorp sal skakel.

“Luderitz het die pad nodig om volhoubaar te wees en ontwikkeling uit te brei.”