8.03.2010 Keetmanshoop hou dorp skoon
NADAT heelwat klagtes onlangs oor ‘n “vuil” Keetmanshoop ontvang is, het die stadsklerk aan Suiderland gesê dat vir so ’n klein dorp dit ’n ooraanbod van skoonmaakdienste het. Volgens mnr. Paul Vleermuis word N$120 000 maandeliks aan skoonmaakspanne bestee om Keetmanshoop se strate skoon te hou.
Behalwe vir die drie voltydse spanne wat vullis verwyder, is daar ook spanne wat in die gemeenskap diens lewer. Sewe groepe van ses mense elk werk in die gemeenskapspanne en wissel mekaar elke twee weke af. Die spanne tel byvoorbeeld straatvullis op, sê mnr. Vleermuis. Volgens hom is Keetmanshoop die enigste dorp wat sewe dae per week vullis verwyder.
Die uitleg van Keetmanshoop veroorsaak egter aan die einde van die maand ’n opeenhoping van mense aangesien die twee groot inkoopsentrums op die dorp in dieselfde straat geleë is en dit dus vuil word weens die beweging van mense. “Mense moet net leer om self hul papiere en gemors in asdromme te gooi,” het mnr. Vleermuis gesê. Skoonmaakspanne maak twee dae per week in Krönlein en Tseiblaagte skoon en ook soms by die Van Rhyndam of langs die B1-hoofpad.
|