
Mnr. Arnold Losper
DIE spook van etniese verdeeldheid en bevoordeling van sekere groepe is ná ’n vuisgeveg in die raadsaal van Keetmanshoop se dorpsraad opnuut onder die soeklig toe twee strydrosse van die plaaslike bestuur mekaar te lyf gegaan het oor die aanstelling van ’n “kleurlingvrou” as rekenmeester.
’n Moontlike koalisie tussen opposisiepartye op dié suidedorp lê ook aan skerwe nadat die burgemeester en CoD-verteenwoordiger, raadslid Arnold Losper, en mnr. Moses Titus (DTA) mekaar glo met die vuiste in die dorpsraadsaal getakel het.
Kort tevore het harde woorde tussen die twee voorgenome politieke bondgenote glo geval en ’n woordestryd het uitgebreek voor die vuiste geklap het. Die twee strydrosse het aanvanklik alle kennis oor die ba- kleiery ontken, maar die storie het die week nogtans in die openbaar beland. Die polisie op Keetmanshoop het bevestig dat die burgemeester ’n klag van aanranding aanhangig gemaak het.
Hoewel mnr. Titus nie die saak wou vooruit loop nie, het hy by navraag uit Keetmanshoop bevestig dat sy besware oor wat hy “ongeoorloofde aanstellings in poste by die munisipaliteit” noem, ’n vloekery ontlok het. Hy het gesê hy het beswaar aangeteken dat, terwyl reeds net kleurlinge en Basters in die topposisies van die munisipaliteit werksaam is, die raad aanbeveel het om nóg ’n bruin vrou as rekenmeester aan te stel.
Mnr. Titus se heftige beswaar oor die aanstelling was dat die vrou met net ’n kwalifikasiesertifikaat van ’n bank in die onderhoud vir die posisie die paal gehaal het, terwyl drie mans met universiteitsgrade afgekeur is. Volgens mnr. Titus was dit hier waar raadslid Losper hom van rassisme begin beskuldig het en gesê het: “Ag man, sy g..t. Ek sê jou Titus se m..r!”
Na bewering het die burgemeester toe mnr. Titus hom versoek om hom nie te vloek nie gesê: “Jy kan maak wat jy wil!”
Dit was hier waar die gestoei begin het. Mnr. Titus hou vol dat die aanstellings wat die stadsraad van Keetmanshoop maak, onwettig is.
“Net die bestuurskomitee is by magte om enige aanstellings te maak,” het hy volgehou.
Hy het bygevoeg dat noudat die ampstermyn van die huidige stadsraad uitloop, die raadslede hul oorblywende tyd wil gebruik om vriende en families te begunstig. Hy het die stadsklerk, mnr. Paul Vleermuis, aangesê om nie die onwettige aanstellings uit te voer nie.
Na bewering het mnr. Vleermuis ’n brief aan die Minister van Streek- en Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling geskryf en versoek dat riglyne oor die aanstellings gegee moet word. Intussen het die burgemeester, raadslid Losper, bevestig dat die aanstelling van personeel warm debat met etniese ondertone ontlok.
“Mnr. Titus beweer dat net ‘kleurlinge’ aangestel word, maar mnr. Josef Rooi (glo van Nama-herkoms) is in die afdeling van plaaslike ekonomiese ontwikkeling aangestel.”
Volgens sy weergawe het mnr. Titus in die debat gedreig dat hy hom sal “moer” en toe mnr. Losper sê dat hy te oud is om te slaan, het hy hom teen die kop gevat en van die stoel afgestoot. Na bewering het mnr. Titus probeer om hom met ’n stoel te slaan en in die proses die stoel teen die muur stukkend geslaan.