Suiderland


Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

10.08.2010

Jong seun veg moedig teen siekte

© Tammy Kleinhans
Klein Willem Bok dra nog stutte op sy bene.
WILLEM Bok, ’n jong seun van Rehoboth wat by geboorte met ’n erge vorm van veelvoudige Pterygiumsindroom gediagnoseer is, is vandag elf jaar oud en het al in sy jong lewe baie deurgemaak. Die siekte affekteer sy ruggraat, senings, ligamente, spiere en vel. Die siekte beperk ook die beweeglikheid van sy gewrigte en lei tot styfheid. Willem is die eerste keer in Windhoek geopereer toe hy net drie jaar oud was.

’n Tweede operasie het gevolg toe hy sowat vyf was. Die dokters het gehoop dat die operasies sy bene sou reguit maak, maar die operasies het nie in die doel geslaag nie. Die dokters het bevind dat hy ’n spesiale ortopediese operasie benodig wat nie plaaslik gedoen kon word nie.

Die oorspronklike koste van die operasie in Duitsland sou ongeveer N$1 miljoen beloop, maar is tot 5 000 euro (nagenoeg N$47 500) verlaag. Klein Willem en sy ma, me. Bea Bok, het op 17 Februarie vanjaar na Duitsland vertrek. Die operasie is bemoeilik omdat Willem se knieskywe te hoog gesit het.

Die knieskywe is laer geplaas en hy kon vir die eerste paar weke na die operasie nie loop nie, want sy liggaamsgewig op die knieskywe kon sy bene gebreek het. Sy spiere moes ook gerek word om dit langer en reguit te maak. Dit sal hom in staat stel om regop te loop en beter balans te hê. Hy is reeds langer as voor die operasie en is weer op die been.

Teen einde van die jaar behoort die stutte om sy bene nie meer nodig wees nie. Willem en sy ma het vir drie maande in Duitsland gebly sodat Willem ná die operasie kon herstel en fisioterapie ontvang. Klein Willem kry een keer ’n week fisioterapeutiese behandeling by die St. Mary’s Hospitaal in Rehoboth en is al terug by die skool.
© Tamryn Kleinhans
Bianca Bok by haar broer Willem Bok op hul ma se rusbank.
Volgens sy ma word gereeld strek- en balansoefeninge gedoen. Sy het ook gesê Willem gebruik tans geen medikasie nie en beleef minimale pyn. Me. Bok het gesê dat die skool haar gerusgestel het dat hulle Willem sal help om die skoolwerk in te haal wat hy misgeloop het.

Hy is nou in graad 5 en volgens sy ma baie aktief. Dokters het aan me. Bok gesê dat Willem in lengte sal groei en verder soos enige ander kind van sy ouderdom sal ontwikkel. Klein Willem benodig plastiese chirugie aan sy gesig en nek, maar me. Bok sê dat sy dit eers volgende jaar oorweeg, want sy wil nie haar kind deur die trauma van nog ’n operasie binne so ’n kort tydperk sit nie.

Me. Bok het gesê sy is dankbaar dat God haar die krag gee om alles deur te maak en dat Hy die dokters tydens Willem se operasie gelei het. Sy sê sy is verjeug dat haar seun nou sal kan ontwikkel en speel nes ander kinders en dat hy ’n kans sal hê om ’n beter lewe te lei. Sy het al die mense en organisasies soos Air Namibia bedank wat die vliegkaartjies geborg het sodat sy as enkelmoeder haar seun kon laat opereer het.