
Riete wat onlangs afgespoel het by die Visrivier nadat swaar reën in die opvangsgebied van die rivier geval het.
Die moontlikheid van vloedskade op Mariental tydens reënseisoene en die moratorium op ontwikkeling op die dorp wes van die spoorlyn, is die belangrikste aspekte wat ontwikkeling op die suidedorp kniehalter. Die ou kwelpunte vir Marientallers het weer na vore getree op ’n vergadering met sakelui om plaaslike ekonomiese ontwikkeling op die dorp te bespreek.
Die doel van die vergadering was om met sakemense te konsulteer oor wat die swak en goeie punte van Mariental is. Die stadsklerk van Mariental, mnr. Paul Nghiwilepo, sê dat beoog word om ’n beleid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling op te stel, maar dat die bydraes van inwoners hiervoor nodig is.
Van die punte wat inwoners opgehaal het, was dat die rivier skoongemaak moet word vir ekonomiese groei om op Mariental plaas te vind. ’n Ander kwessie is dat ontwikkeling nie wes van die spoorlyn kan plaasvind nie en die uitbreiding van besighede dus beperk is. Nog ’n probleem is dat vloedversekering ook nie vir daardie gedeelte aangegaan kan word nie.
Die nuwe burgemeester van Mariental, mnr. Billy Mensah, sê dat die dorpsraad die moratorium op die westelike deel van die dorp wat enige verdere ontwikkeling beperk, met die lynministerie wil bespreek. “Wanneer die probleem opgelos is, sal dit makliker wees om ekonomiese ontwikkeling op die dorp te bevorder en te verbeter aangesien meeste van die gevestigde besighede in die gedeelte van die dorp geleë is.”
Mnr. Nghiwilepo sê dat inwoners sedert die 2006-vloed oor die riete kla wat nie verwyder word nie, versekering en die rivier wat skoongemaak moet word. “Dit is aspekte waarna gekyk moet word voordat plaaslike ekonomiese ontwikkeling kan plaasvind.” Intussen het mnr. Nghiwilepo gesê dat inwoners van Mariental oor die algemeen tevrede is met die beheer van die Hardapdam.
“Baie mense meen dat ons vanjaar nie so baie reën soos in die verlede gehad het nie. Dus is dit steeds in ons agterkop, wat as daar groot reën soos in 2006 kom?” Vir die dorp is dit ’n bekommernis as meer reën sou val en meer water uit die dam gelaat moet word. Sedert 2007 het Mariental nie regtig groot reën gehad nie, sê mnr. Nghiwilepo “Dit is hoekom ons so graag wil hê dat die rivier skoongemaak moet word.”
Hy voeg egter by dat die beheer oor die dam die afgelope drie jaar baie goed was en dat NamWater die vlak teen 70 persent gehou het. Voorts sal die beskermingswal vir die dorp nog vanjaar gebou word. Die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou moet amptelik ’n versoek by die munisipaliteit indien om die muur te bou waarna goedkeuring gegee sal word. Dit is die enigste uitstaande proses voordat die beskermingswal gebou kan word.