
Die Aus-inligtingsentrum se waterherwinningsaanleg is nou amptelik in gebruik. Van links is mnre. Paul Frederick (tradisionele owerheid), Patrick Xoagub (ACCT se ondervoorsitter), Chris Nissen (nuwe Namdeb-bestuurder vir die noordelike gebiede), Tony Bessinger (ou Namdeb-bestuurder vir die noordelike gebiede), David Tjombe (streekraadslid) en Barend Lotharing (Aqua Services & Engineering). Voor is mnre. Jonas Heita en Alex Mowa van die Ministerie van die Omgewing en Toerisme.
AUS se Gemeenskapsbewaringstrust het aan die einde van verlede maand amptelik volmag gekry om met ’n inheemse kwekery te begin ná die Aus-inligtingsentrum se waterherwinningsaanleg in gebruik geneem is. Die doel van die projek is hoofsaaklik om afvalwater te herwin om ’n kwekery te begin en om te verhoed dat onbehandelde rioolwater die grondwater van die dorp besoedel.
Die Aus Gemeenskapsbewaringstrust (ACCT) het in 2006 reeds ’n versoek by ontwikkelingsvennote ingedien om die waterherwinningsaanleg te vestig om onder meer vetplante en kokerbome te kweek. Ingenieurs verantwoordelik vir die navorsing en konstruksie van die aanleg, Aqua Services & Engineers, het aangedui dat die aanleg minstens 5 kubieke meter water per dag kan behandel.
“Dit sal ’n finale produk met ’n gehalte lewer om in die omgewing of vir plante te gebruik sonder om skade oor ’n lang tydperk aan te rig.” Die ACCT is ’n nie-winsgewende organisasie wat oorgehaal is om die belange van die dorp en sy onmiddellike omgewing te bevorder. Vir die doel is ’n huurooreenkoms van 20 jaar daaraan toegestaan om 40 hektaar grond tot voordeel van die gemeenskap te ontwikkel.
Een van die projekte wat reeds hieruit ontstaan het, is die Aus-inligtingsentrum. Volgens mnr. Piet Swiegers, ’n trustee van die ACCT, laat die huidige rioolbehandelingstegnieke veel te wense oor. In die hoofdorp beskik die meeste van die huise oor riooltenks vanweë die gebruik van spoeltoilette.
Alle huishoudelike afvloeiwater word ook daarin opgevang. Die enigste uitsondering is die Hotel Bahnhof wat sy eie herwinningsaanleg het om 6 kubieke meter water per dag te behandel. Die huise in die Khaubeb-woonbuurt aan die noordekant van die grootpad beskik oor droë toilette en geen riooltenks nie. Die nuwe skool beskikoor riooltenks waarvan die inhoud op ’n gereelde basis deur ’n rioolvragmotor verwyder word.
Die inhoud van die droë toilette word ook deur die vragmotor verwyder. Die vragmotor stort dit dan sowat vier kilometer buite die dorp. Soms word die inhoud egter ook op plekke in die veld gestort wat nie goedgekeur is nie. Op die oomblik lewer boorgate op Aus sowat 74 kubieke meter water per dag aan die nagenoeg 1 500 inwoners van die dorp.
Om die waterherwinningsaanleg moontlik te maak, het betrokkenes ruim bygedra met skenkings. Namdeb het N$200 000 gegee, Aqua Service Enginering N$120 000 en Conserve Namibia N$40 000. Hiervan is N$100 000 van Namdeb oor, wat die ACCT verder sal ondersteun met verbeterings, landskapwerk en infrastruktuurontwikkeling by die sentrum. Ondersoek sal ook na die moontlikheid van ’n visboerdery ingestel word.