24.5.2012
 Argiewe:

Suiderland


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

15.11.2011

Genoegdoening is vrug op sukses


Die Seeheim hotel is die afgelope paar jaar uitgebou van net ses tot 30 kamers en is ’n toonbeeld van die sukses wat deursettingsvermoë kan meebring.

SEEHEIM, sowat 50 kilometer wes van Keetmanshoop op pad na Lüderitz, se aanvanklike ontstaan was te danke aan vrugbare grond en die winsgewende groenteverbouingsprojek wat daar aan die gang was.

Dit het later as gevolg van die diamantstormloop een van die besigste deurgangstasies geword, maar alle bedrywighede daar is gestaak. Die hotel wat in daardie stadium nog gefunksioneer het, is ook in 1974 gesluit. Toe die Kloppers-egpaar, Zirk en Marinda, die eiendom koop en dit in 1998 weer in bedryf stel, kon niemand dink dat hulle die plek in ’n hoogs suksesvolle 78-bed hotel kon omskep nie.

Wat meer is, die hotel is selfvoorsienend wat groente en vleis betref en produseer genoeg sitrusvrugte op hul nabygeleë plaas vir eie gebruik en lewering aan ondernemings op Lüderitz en Keetmanshoop.

Marinda Kloppers het die Seeheim hotel saam met haar man Zirk uitgebou tot een van die spog huisvestingsinrigtings in die Suide van die land.
Die terrein van die Neckertaldam is baie naby aan die Seeheim hotel geleë en as konstruksiewerk eers begin, word voorsien dat die 78-bed hotel wat reeds ’n goeie bedbesetting het van toeriste wat die gebied besoek, baie baat daarby gaan vind.

Die Kloppers-egpaar het hulle 13 jaar gelede op Seeheim kom vestig en die hotel sedertdien uitgebrei van net ses kamers tot wat dit vandag is.

’n Belangrike deel van die geriewe wat hulle bied, is kampeerplekke, ’n swembad en ook die nodige geriewe om troues en ander meer formele funksies aan te bied.

Die hotel was vanaf 1974 tot 1998 gesluit en skynbaar het niemand daarin belanggestel om dit weer te begin nie.

Die lafenis van ’n swembad is ’n noodsaaklikheid in die hittige somerweer op Seeheim en dit is een van die gewildste bymekaarkomplekke by die hotel.
“Almal het ook gedink dat die hotel nie suksesvol bedryf kan word nie. Ons het vanaf Suid-Afrika gekom en die geleentheid egter aangegryp en vandag kan ons met genoegdoening terugkyk hoe die ondernemingsgees wat ons aan die dag gelê het, begin vrugte afwerp.”

Die Klopperse glo ook aan die filosofie dat diegene wat deursettingsvermoë het, diegene gaan wees wat later sukses gaan bereik.

Dit is een van die redes waarom hulle op hul plaas Kana’s, sowat 40 kilometer wes van Seeheim, met die verbouing van groente en vrugte soos sitrus en tafeldruiwe begin het. Hulle lewer nie net vars produkte vir die hotel nie, maar voorsien groente en sitrusvrugte aan groot kettingwinkels op Keetmanshoop en Lüderitz.

Benewens die hotel, bedryf die Klopperse ook ’n meubelfabriek op die perseel. Die meubels word hoofsaaklik van dolfhout vervaardig wat uit die noorde van die land afkomstig is. Die meeste meubels word op versoek van kliënte vervaardig en daar is feitlik niks wat hulle nie kan maak nie. Dit is veral gewild onder lodges, gastehuise en huisvestingsinrigtings oral in die land en selfs in Suid-Afrika.

“Ons het nie ’n formele vertoonlokaal om ons produkte uit te stal nie, maar al ons meubels in ons hotel is wat ons gemaak het en dit dien terselfdertyd as ons vertoonlokaal. Mense kan dan sien hoe dit lyk en wat die gehalte daarvan is.

“Hoewel ons hoofsaaklik met dolfhout werk, werk ons ook met ander houtsoorte soos wat kliënte versoek,” het Kloppers gesê.

’n Ander spesialiteit wat sy self bedryf, is ’n taksidermis. Sy het ’n werkswinkel op Seeheim, maar weens die aktiwiteite en lang ure wat die hotel van haar verg, kry sy eintlik nie meer kans om aan die stokperdjie aandag te gee nie.

Marinda is baie positief oor die feit dat die Neckertaldam uiteindelik die fase bereik het dat binne die afsienbare tyd met konstruksie begin gaan word.

“Mense moet nie wag om te sien watse geleenthede die konstruksie van die dam vir hulle kan bied nie, maar hulle moet eerder kyk wat hulle kan doen om waarde tot die dam te voeg,” het Marinda gefilosofeer.

Sy sê die totale gemeenskap sal by die konstruksieproses baat kan vind met nuwe werkgeleenthede en ’n heelwat groter kontantvloei wat geskep gaan word.

“Die konstruksie van die dam gaan soveel geleenthede open vir dienslewering op Keetmanshoop, dat bestaande ondernemings hul bedrywe nou al moet begin aanpas om in die vraag wat daar vir dienste mag ontstaan, te kan voorsien.

“Dit is ’n ideale geleentheid vir sakemanne om hul bedrywe uit te brei en om nuwe werkgeleenthede te skep.”