NET buite Rehoboth in die rigting van Windhoek is die Oanobdam en die pragtige oord wat die trots van die eienaars, die Benade-egpaar is. Die Oanob oordprojek het gefokus om die natuurskoon te behou soos wat dit is en ’n pragoord te bou waar gaste rustig kan ontspan en die natuurskoon geniet.

Een van die luukse chalets by die oord.
Vele aktiwiteite word aangebied waarmee gaste hulself kan besig hou, insluitend swem, visvang en staptoere.
Die gaste kan ook op bootritte gaan, waterski of met ’n 4x4 voertuig ’n skemerdrankie gaan geniet.
Bokke, perde en vele voëlsoorte is by die Oanoboord te sien. Gaste kan tuisgaan in van die luukse chalets wat twee of drie slaapkamers het.

Een van die perde by die oord.
Al die chalets is na karakters uit die animasierolprent The Lion King vernoem. Elke chalet beskik oor ’n ten volle toegeruste kombuis.
Die chalets het satelliettelevisie en ’n balkon wat ’n uitsig van die dam bied.
Die nuwe chalets het klein borrelbaddens op die balkon wat ook ’n uitsig op die dam bied. Gaste kan hul motors in skaduwee parkeer.

Die restaurant met ’n uitsig oor die dam.
Behalwe die chalets is daar ook kamers waar gaste kan bly. Alle kamers het tuine en op aanvraag is spesiale kamers beskikbaar wat met bababedjies of vir gestremdes ingerig is.
Die kamers word van linne en handdoeke voorsien. Die oord het ook kampgeriewe wat kragpunte het en tentseile wat afgeslaan kan word wanneer die aand koud is of die wind waai, asook ’n opwasbak.
Drinkbare water is beskikbaar en alle kampplekke het braaigeriewe. Die kampeerplekke het ablusiegeriewe met warm water vir die storte.

Die ingang van die oord.
Die kampeerplekke is gedeeltelik in die veld en kyk uit op die dam. Dit is geskik vir groot en klein tente sowel as kampeerders en karavane.
Die oord het ’n konferensiesaal wat vir jaareindfunksies, slypskole, matriekafskeide en troues gebruik kan word. Die spyskaart is à la carte en Oanob het ses kokke wat vir smaaklike kos sorg.
Die kroeg is ten volle gelisensieer. By die restaurant, wat ’n uitsig van die dam bied, is die oord se swembad waarin gaste in die warm somersdae kan afkoel.
Gaste hoef nie oor die veiligheid van hul besittings bekommerd te wees nie, want die oord het sekuriteit wat na die gaste en perseel omsien.
Vir verdere inligting of besprekings kan 062- 552 370 geskakel word of Oanob se webtuiste www.oanob.com.na kan besoek word.