8.07.2008

Gemoedere loop hoog oor Chinese lorries


DIE polisie op Mariental is besig om teen Chinese bouers op te tree wat na bewering in ongelisensiërde vragmotors sonder bestuurderlisensies ry. Suiderland het dié situasie ondersoek ná ’n bekommerde inwoner op die dorp die koerant genader het oor die vermoedelik onwettige gebruik die voertuie.

Suiderland het tydens ’n onlangse besoek aan Mariental een van die voertuie agtervolg en op kamera vasgevang. Die anonieme inwoner sê die geval is al by die polisie aangemeld, maar hy is nie van enige amptelike optrede bewus nie.

“Die polisie het wel gesê dat hulle met die Chinese onderhandel en hulle tot die einde van Junie kans gegee het om hul bestuurderslisensies én lisensies vir die vragmotors te kry,” het hy gesê.

Adjunk-kommissaris Kobus Meyer van die polisie op Mariental het aan Suiderland bevestig dat van die voertuie wat gebruik word, glad nie by NaTis geregistreer is nie, aangesien dit vragmotors met linkerstuur is waarvoor die Namibiese wet nie voorsiening maak nie.

“Ons het ná klagtes navraag gedoen en die voertuie van die pad verwyder. Windhoek het egter daarna gebel en gevra om die Chinese voertuie terug op die pad toe te laat,” aldus adj.komm. Meyer. Volgens hom is die Chinese bouers toe van ’n alternatiewe roete voorsien, “maar intussen gaan hulle weer voort om openbare paaie te gebruik en moes ons hulle weer verwyder.

Windhoek het opnuut versoek dat die Chinese se hand gevat word en ons het dit gedoen. “Ons het ook aanbeveel dat die Chinese plaaslike vragmotors aanskaf, maar dit val glo nie in hul huidige begroting nie,” aldus adj.- komm. Meyer.

Volgens hom werk 40 Namibiërs by die betrokke maatskappy en staan dié mense die kans om werkloos te wees sou die vragmotors van die pad verwyder word en die besigheid tot stilstand kom. “Ons sit reeds met so ’n groot werkloosheidsyfer in die Suide,” se adj.komm. Meyer.

Hy besef die heersende situasie is onregverdig teenoor die plaaslike inwoners en het in ’n brief aan Windhoek versoek dat onmiddellike optrede teen die skuldiges geneem moet word, sê adj.- komm. Meyer. “Ek kan verseker dat die vragmotors binne die volgende twee weke van die pad af sal wees,” het hy onderneem.