Suiderland


Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

9.02.2010

Gemengde gevoelens oor Neckertaldam



TERWYL sommige glo dat die Neckertaldam ’n goeie ontwikkeling in die Suide sal wees, is ander van mening dat die Nautedam (foto bo) onderbenut is. Kapsie word gevolglik teen die aangaan van die sowat N$2,4 miljard projek gemaak. Volgens die goewerneur van die Karas-streek, mnr. David Boois, ontvang Keetmanshoop sy water van die Nautedam.

“Grünau en Aus het reeds waterprobleme wat in die toekoms kan toeneem.” Sou besluit word om pyplyne vanaf die Nautedam na Aus en Grünau uit te brei, kan dit ’n behoefte aan water laat. Dit kan veroorsaak dat die Nautedam leegloop indien goeie reënbuie nie ontvang word nie. Die noodsaaklikheid van nog ’n dam is meer as ’n eeu gelede reeds geïdentifiseer.

Die Neckertaldam kan dus as ’n voedingsbron dien aangesien dit naby Keetmanshoop en die Nautedam geleë sal wees, sê mnr. Boois. Volgens notules van verskeie openbare vergaderings om die publiek oor die Neckertaldam in te lig, kan die Nautedam nie ’n gereelde toevoer van water voorsien nie aangesien dit deur droogte beïnvloed word. Dit is dus nie standhoudend nie en daar kan nie op die dam staatgemaak word vir die besproeiing van gewasse nie.

Om te beweer dat die Nautedam genoeg en gereeld water het om 5 000 hektaar te besproe: is wensdenkery, sê die voorsitter van die sakekamer op Keetmanshoop, mnr. Willie Kotze. “Soos wat droogte vir 2010 in die Suide voorspel is, is tydens Januarie bykans twee maal die inhoud van die Nautedam na die see laat vloei, helaas onbenut.”

Die Nautedam het in 1972 gestalte gekry. Die hoofoorweging vir die dam was en is steeds om Keetmanshoop van water te voorsien, sê mnr Kotze. “Indien iets met die Hardap- of die Nautedam verkeerd loop, waar sal Keetmanshoop en Mariental water vandaan kry?” Volgens hom het Keetmanshoop voor, maar spesifiek vanaf 1866 tot 1972, drinkwater uit fonteine en boorgate gekry.

Daardie infrastruktuur bestaan egter nie meer nie en dit kan ook nie oornag vervang word nie. Verder is weinig, indien enige, instandhouding vanaf 1972 aan die pyplyn tussen die Nautedam en Keetmanshoop gedoen. “Die bou van die Neckartaldam is te lank deur die vorige en die huidige Regering agterweë gelaat.” Die vorige en huidige Regering het die Suide nog nooit op hul prioriteitslys gehad nie, sê hy.

Die Oranjerivier behoort aan Suid-Afrika. “Ek hoef nie in detail te gaan om te probeer aannames maak wat die gevolge sal wees, sou Namibië oornag verbied word om water uit die Oranjerivier te onttrek nie.” Die uitvoerbaarheidstudie van die Neckertaldam behoort teen Maart voltooi te wees terwyl die dam se ontwerp teen Desember afgehandelsal wees.

Tenders vir bouwerk sal teen volgende jaar Maart uitgereik word en konstruksiewerk kan ’n maand later begin. Dit sal tot ongeveer Oktober 2013 duur en die dam sal 846 miljoen kubieke meter kan bevat.

Drie remskoene in die Neckertaldam- projek is dat mense in die streek nie wil hê dat die projek moet voortgaan nie, die projek te duur is en die Regering dus sal besluit dat ander prioriteite voorkeur kry en laastens, dat die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou nie geld het om die bou van die dam te verseker nie.

Dit word geskat dat werk aan sowat 20 000 mense verskaf sal kan word wanneer met besproeiing uit die dam begin word, aangesien vier werkers per hektaar moontlik aangestel sal word.