
Van links is mnr. Dirk Kotze, voorsiter van die Misdaadvoorko-mingseenheid op Aranos, me. Adéle Visser van die FNB-tak op Aranos en mnr. Renaldo Smit, gebiedsbestuurder van FNB, tydens die oorhandiging van die blou lig.
WANNEER inbrekers en ander misdadigers op Aranos voortaan ’n flitsende blou lig bo-op ’n bakkie se dak sien, moet hulle weet die skrif is vir hulle aan die muur. FNB Namibia se tak op die dorp het, as deel van sy maatskaplike verpligting, dit goedgedink om die lig aan die misdaadvoorkomingseenheid op die dorp te skenk.
Die eenheid werk nóú saam met die plaaslike polisiemag om toenemende misdaad die hoof te bied. Die eenheid bestaan uit 75 lede van wie ses opgeleide reserviste is. Die res is vrywilligers van die gemeenskap en boere van die omgewing. Aangesien misdaad daar toegeneem het en die polisie nie te alle tye oral kan wees nie, het Nampol hierdie inisiatief verwelkom. Die misdaadvoorkomingseenheid patrolleer onder meer die dorp sowel as omliggende gebiede sover moontlik en speel die rol van ’n algemene woonbuurt-waghond.
Me. Adéle Visser van die FNB-tak op Aranos sê dat die Aranos Misdaadvoorkomingeenheid baie goed deur die gemeenskap ondersteun word deur byvoorbeeld die skenking van ’n voertuig wat hulle ontvang het. Die voertuig sal met ’n blou lig van N$8 000 toegerus word en is deur FNB Namibia geborg. Dit sal net gebruik word wanneer verdagte mense of voertuie vervolg word.
Mnr. Renaldo Smit van FNB Namibia het bygevoeg die bank verbind is tot die gemeenskappe waarin hulle werk. “Ons waardeer elke verhouding met ’n kliënt en is trots op alle dorpe en stad waarin ons werk. Indien inwoners van ’n dorp byeenkom en besluit om hul lewens en die van hul mede-Namibiërs te verbeter, is ons trots daarop om van hulp te wees. “Aranos is so ’n voorbeeld, die mense hier is moeg vir die toe nemende misdaad, maar instede daarvan dat hulle terugsit en wag dat iemand anders iets daaraan doen, het hulle die inisiatief geneem en tesame met die owerheid besluit hoe hulle kan help.”