
Die hoof uitvoerende beampte van die Keetmanshoopse munisipaliteit, mnr. Paul Vleermuis.
KEETMANSHOOP se stadsraad het miskien ’n bietjie lank gewag om gedienste erwe en grond vir ontwikkeling beskikbaar te stel, maar op die oomblik is alle wiele aan die rol om te verseker dat aan die toekomstige verwagtinge met betrekking tot ontwikkeling in die gebied voldoen gaan word.
Die hoof uitvoerende beampte van die dorp se munisipaliteit, mnr. Paul Vleermuis, sê hulle is baie opgewonde oor die positiewe vooruitsigte wat die bou van die Neckertaldam skep en is reeds besig met grootskaalse beplanning om daarvoor voorsiening te maak.
“Ons is op die oomblik besig om 200 lae-inkomste erwe te diens. Daar is ook N$3 miljoen bewillig om laekoste behuising te bou. Ons het ook reeds met kontrakteurs gepraat – dieselfde wat betrokke is by die Neckertalskema – oor die bou van ’n ontvangsarea om werkers wat by die projek betrokke gaan wees, op en af te laai,” het hy gesê.
Voorts sê hy is samesprekinge met die projekbestuur van die Neckertaldam gevoer oor ’n lening om ’n verdere 70 erwe op die dorp te diens.
“In die Krönleinbuurt is ons besig met die bou van 50 huise en om ’n verdere 30 erwe oop te stel,” het hy bevestig.
“Ons is ook in ’n gevorderde stadium om erwe in Noordhoek beskikbaar te stel,” het hy gesê.
Een van die positiewe aspekte van die nuwe ontwikkeling wat op die dorp en die omgewing plaasvind, is volgens Vleermuis die aantal werkgeleenthede wat dit beskikbaar maak. Daarmee saam gaan meer geld in omloop kom wat ’n hupstoot aan die verbetering van die algemene ekonomie van die dorp gaan gee.
’n Groot probleem blyk egter die bestaande riool- en watervoorsieningstelsel op die dorp te wees.
Die verwagting is dat die invloei van mense gedurende en ná die voltooiing van die Neckertaldam in veelvoude kan toeneem en dat die huidige rioolen watervoorsieningstelsel hopeloos onvoldoende is om dit te kan absorbeer.
Die stadsraad sal noodwendig met ’n totale nuwe uitleg en struktuurbeplanning vir dié dienste vorendag moet kom. Die rioolstelsel is byvoorbeeld tussen 1964 en 1966 gevestig en dit sal heeltemal vervang moet word om vir uitbreidings voorsiening te kan maak.
“Ons het ’n voorlegging aan die Ministerie van Streek- en Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling gemaak om na ons rioolen watervoorsieningstelsel te kyk. In die lig van die algemene ontwikkeling in die streek en die druk wat dit op ons as stadsraad plaas, is ek positief dat ons hulp uit daardie oord gaan kry om die infrastruktuur op te gradeer,” het Vleermuis gesê.
Hy het ook ’n algemene boodskap vir inwoners gehad.
“My versoek is dat sakemanne die geleenthede wat saam met die nuwe ontwikkeling kom, met ope arms sal aangryp. Ons moet minder na redes soek om mekaar vir swakhede te blameer, maar eerder positief wees en doelbewuste pogings aanwend om mekaar te ondersteun die toekoms in,” het hy gesê.