15.11.2011 Effense afplatting in toeristegetalle op Aus
TOERISME in die Aus-omgewing is steeds goed, hoewel ’n afname van sowat 2 tot 3 persent vanjaar beleef is.
Dis die mening van mnr. Piet Swiegers van die Klein Aus Vista lodge net buite Aus.
Hy is baie positief oor die vooruitsigte van die voortsetting van die ontsluiting van die unieke natuurtoestande wat die omgewing aan toeriste bied. Dis net jammer, sê hy, dat sekere konsessiegebiede wat aan gemeenskapsorganisasies toegeken is, onbenut lê en diegene wat aktief by toerisme betrokke is, daardeur gefrustreer word.
“Dis ’n bate vir die omgewing, maar as dit onbenut lê, is dit sleg vir toerisme, want begeleide toere deur die gebied om toeriste in te lig oor die gebied, is in sekere konsessiegebiede nie meer moontlik nie,” het hy gesê.
“Die kompleksiteit van die gemeenskap maak dit moeilik dat dit behoorlik bestuur kan word. Ons is van mening dat die konsessie aan ’n individu gegee word en dié dit dan bestuur met ’n vaste bedrag wat aan die gemeenskap betaal word. Wins wat op die wyse verdien word, kan die gemeenskap dan mos na eie oordeel bestee. Om egter niks aan die konsessie te doen nie, is sinneloos,” het Swiegers gesê.
Klein Aus Vista het op die oomblik 35 kamers en chalets vir akkommodasie sowel as kampgeriewe en geriewe vir rugpakdraers.
Een van die nuutste bykomstighede van doen dinge by die Lodge, is die bergfietsroetes wat beskikbaar gestel is. Dit maak voorsiening vir enkelbaanroetes tot roetes wat tot 50 kilometer in die Ausberge strek. Van die mooiste landskappe in die land word daar aangetref, veral in Junie wanneer dit blomtyd in die berge is, sê Swiegers.
|