
Personeel van die Naute-projek besig om dadels te verpak.
IN totaal is bietjie meer as 45 000 kartonnetjies druiwe verlede seisoen in die Hardap-streek uitgevoer in vergelyking met die uitvoersyfer wat gewoonlik aan die 200 000 kartonnetjies raak.
Terselfdertyd het die Naute-projek net 48 000 kartonne tafeldruiwe verpak van sy 30 hektaar wat onder wingerd staan.
Volgens die bestuurder van die projek naby Keetmanshoop, mnr. Mous Boshoff, is 60 persent van die projek se normale oes verpak. Ander jare word sowat 80 000 to 90 000 kartonne tafeldruiwe verpak.
Een van die grootste produsente in die Hardap-streek wat gewoonlik meer as 100 000 boksies druiwe uitvoer, het verlede seisoen slegs 22 762 boksies uitgevoer. ’n Ander produsent in die streek het 23 000 boksies uitgevoer teenoor sy gewone 80 000 boksies.
Die res van die druiwe is aan die plaaslike mark verkoop of rosyntjies van gemaak. Volgens mnr. Riaan le Roux, bestuurder van KaapAgri se Hardaptak, het sekere variëteite bevredigend gepresteer terwyl ander as gevolg van probleme met afspening en korrelgrootte swak gevaar het.
Die Tompson Seedless het afspeenprobleme ondervind en alhoewel die Flame goeie kleur getoon het, het boere met die korrelgrootte gesukkel. Dit is in die Tompson Seedless se geaardheid om ’n afspeenjaar oor ’n sekere tydperk te ondervind, sê mnr. Le Roux. Intussen sê mnr. Boshoff dat veral twee pitlose variëteite, die Sugraone en Tompson Seedless, swakker gevaar het. “Sugraone het benede die Oranjerivier verlede seisoen nie baie goed gepresteer nie.” Volgens hom sal hulle stelselmatig na hoë produksie variëteit tafeldruiwe oorskakel wat vroeër produseer.
Die Prime en Flame is variëteite wat die vroegste produseer waarna Victoria en Tompson Seedless volg. Voorts het oestyd vir dadels op die Naute-projek begin en ’n goeie oes word vir die seisoen verwag. Alhoewel 12 000 dadelpalms op die projek aangeplant is, word 2 500 hiervan se dadels nie bemark nie.
Volgens mnr. Boshoff word 250 ton dadels per jaar uitgvoer. Die oesverwagting vir die Bareehvariëteit is vanjaar 90 ton, vir die Medjool-variëteit 145 ton en van die Boufegouse-, Khenezi- en Khalas- variëteit 35 ton elk. Die dadels word onder meer na Engeland, Spanje, Frankryk en Kanada uitgevoer. Hy het bygevoeg dat 68 000 trosse dadels met die hand bestuif is.
Dit is 4 000 trosse meer as die vorige jaar en dus is die verwagting dat die oes ook beter sal wees. By die projek word nie van insekbestuiwing gebruik gemaak nie. Indien reën voorlopig wegbly, behoort dit ’n goeie oes te wees, het mnr. Boshoff gesê. Geringe reënskade is tydens die reënseisoen aan jonger boorde aangerig, maar oeste lyk steeds goed. Volgens mnr. Boshoff word die Bareeh as ’n vars vrug bemark en dit is dus baie sensitief vir reën en kan maklik bars. Die Medjool word gebruik om as gedroogde dadels verkoop te word.