|
Republikein
|
|
|
8.07.2008 Dié doodse stilte is hemels![]() Die roete is tot aan die einde van September oop. Namibiërs is geregtig op 25 % afslag. Loer in by www.muletrials.com vir besonderhede oor die roete, wat dit alles insluit en besprekings. Suiderland was die eerste Namibiese mediapublikasie wat die staproete meegemaak het. Dít is maar een van die talle belonings wanneer ’n mens besluit om die Visrivierspoelvallei op ’n heeltemal ander manier aan te pak, al langs die splinternuwe Muilstaproete. Ons is gewapen met warm klere vir die dreigende kouefront, ’n paar kougoedjies as die energievlakke te min raak en borrelende opwinding oor wat wag. Ons bagasie word op tien muile se rûe gelaai en ons ry solank vooruit om by ’n waterval in die Holoog-rivier te wag om te sien hoe die muile al aan die een kant swaar dra.
Die Gondwana Collection het laat in verlede jaar die eerste proeflopie met die Muil-staproete onderneem om te bepaal of dit in die smaak van toeriste sal val. “Toeriste ken die Visrivier en hulle weet wat in Namibië op hulle wag, maar daar is toeriste wat ’n bietjie meer avontuur soek en dié wat elke jaar terugkeer na die land, soek iets nuuts om te doen.”
Mannfred Goldbeck, besturende direkteur van die Gondwana Collection en ook deeltydse gids op die roete, sê dit is maar van die beweegredes waarom hulle besluit het om die roete in te bring. Sedert die roete in Mei amptelik in gebruik geneem is, het 70 toeriste dit al gestap. “Die voordeel van die roete is wanneer ’n mens hier stap, weet jy jy is van die enigstes wat hier is. In die hoofroete waar ’n mens van Hobas na Ai-Ais loop, is daar van Mei tot September ’n stormloop van mense.
Hier is net een groep op ’n slag,” sê Mannfred. Die Engelsmanne wat saamstap, beaam dié feit. Dit is juis dié waarborg van alleenheid wat hulle oortuig het om saam te stap. “En natuurlik die uitsig. Dit is net ongelooflik mooi,”sê Alice Piggott toe ons vir die eerste keer stop om op die kruin van ’n heuwel tee te maak.
Hulle kan nie uitgepraat raak oor die mooiheid van die omgewing nie en selfs die Namibiërs se monde hang oop. Op die eerste dag van die staptog lê ’n mens ongeveer 18 km af. Dit is tussen 5 tot 6 ure se stap, afhangend van die aantal kere wat jy stop. Die terrein wissel baie, van klipperige oppervlaktes, dele wat ’n mens ’n bietjie meer as viertrek nodig het en sandduine tot onder in die Visrivier.
Dan is dit weer terug tot op die oorhangkranse langs die rivier voordat ’n mens vir oulaas daal tot by die eerste slaapplek, die Eggo-kamp. Dié naam is afgelei van die eggo wat ’n mens hoor as jy in die water is en jou gil teen die kranse vasslaan. Die water was egter ’n bietjie te koud om te toets of dit waar is. ’n Koninklike ontvang wag jou in by die kamp. Koue energiedrankies staan gereed en die vooruitsig van ’n warm stort en ’n semispoeltoilet is byna te veel om te te glo.
Om nie eens van die driegangmaaltyd later die aand te praat nie. Tente word op plat rivierklippe opgeslaan en met ’n knus slaapsak laat die moeg jou oë sommer vroeg toeslaan. Vroegoggend skarrel almal by die kamp om op te pak en gereed te maak vir dag twee. Vandag stap ons die berg langs die Eggokamp uit.
Soos ’n mens vorder, sien jy deurgaans hoe ver jy al geloop het en heel bo kan ’n mens al die bakens identifiseer waar jy die vorige dag was. Die muile haal ons sommer vinnig in en ons moet vinnig uit die pad spring sodat hulle kan aanloop na die volgende kamp om solank gereed te maak vir ons aankoms.
Die staptog vandag neem ons rondom die sogenaamde perdeskoendraaie in die Visrivier. ’n Mens stap al op die rand van die kranse, rondom die draaie en kry elke keer jy ’n ander blik van die magtige spoelvallei.
Dan is dit nog een afdraend en weer effens op voordat ons die Perdeskoen-kamp bereik – letterlik op die randjie van die afgrond en met die wonderlikste uitsig. Weer word geen moeite ontsien om elke gas spesiaal te laat voel nie. Die etes is opnuut uit die boeke en omdat die sowat 12 km en maar net 5 ure se stap nie so uitmergelend soos die vorige dag is nie, is die stappers se geselslus aansienlik groter as die vorige aand.
Daar word tot laat rondom die vuur met ’n glas glühwein gekuier en bespiegel hoe koud dit die volgende oggend sal wees. Reën en mis op die randte maak ons die volgende oggend wakker. Die wind sny koud tussen ’n mens se blaaie in, maar die vars lug is belowend en jy voel selfvoldaan om te dink jy vir jou vriende gaan vertel jy het in die Visrivier gestap. Nicolette Jacobie in die Visrivierspoelvallei |
|