
Leerlinge is besig met probleemoplossing op die hindernisbaan by die Aus Buitelugskool.
DIE buitelugskool op Aus is die laaste van sy aard in Namibië wat steeds bedryf word en bied tot op hierdie dag aktiwiteite aan leerlinge wat hulle die res van hul lewes sal bybly.
Buitelugskole in Namibië het na ’n behoeftebepaling onder die jeug in die sewentigerjare van die vorige millennium tot stand gekom. In 1979 is die eerste buitelugskool met een sentrum op Swakopmund begin en in 1988 het die aktiwiteite van die jeugprogram so uitgebrei dat sentrums op Aus, Ganigobus, Brakwater en twee terreine op Swakopmund in gebruik geneem is.
Die werksaamhede van die meeste van die sentra is na 1990 gestaak met net die Aus Buitelugskool wat nog funksioneer. Opknappingswerk ten bedrae van N$1,3 miljoen aan die gebouekompleks van die buitelugskool het reeds ’n aanvang geneem.
Die bedrag is deur Skorpion Zinc op Rosh Pinah beskikbaar gestel. Leerlinge landwyd besoek steeds die Aus Buitelugskool vir onvergeetlike ervaringe en lewenslesse wat daar aan hulle geleer word. Volgens die hoof van die skool, mnr. Deon Kotzé, het die program wat aangebied word, oor die jare nie baie verander nie en steeds word op karakterbou van die skoliere gefokus.

Die personeel van die skool bestaan uit drie fasiliteerders wat die program aanbied, naamlik die hoof, mnr. Deon Kotzé, ’n fasiliteerder/sektretaresse, me. Natasha Loubser en departementshoof, mnr. Patric Xoagub.
Die doel van die bedrywighede van die buitelugskool is primêr om as motiveringskursus te dien waar leerlinge hul eie positiewe waardes en eienskappe kan ontdek. Die program begin gewoonlik op ’n Vrydag, waar leerlinge die eerste aand in die veld buite Aus slaap en oor die program van die week ingelig word. Saterdag keer hulle uit die veld terug na die koshuis op Aus. Laerskoolkinders stap op die dag ’n afstand van tussen sewe en tien kilometer en hoërskoolleerlinge ongeveer 14 kilometer.
Tydens die staptog word die leerlinge se algemene kennis oor die veld verbreed, waarna hulle die aand ’n sessie bywoon oor die waarde van kommunikasie. Die res van die program op ’n Sondag fokus op spiritualiteit en verhoudings en die middag vind ’n uitstappie na die interneringskamp en begraafplaas naby Aus plaas.
Die hoogtepunt van die veldskool is sekerlik die dag- en die nagmars wat die Maandag plaasvind. Die res van die week word gefokus op karaktereienskappe, probleemoplossing en die voltooiing van ’n hindernisbaan as deel van probleemoplossing. Op Donderdae besoek die leerlinge Lüderitz en die besienswaardighede van die dorp asook die wilde perde van die Namib buite Aus.
Die aand vind ’n afsluitingseremonie plaas waar die leerlinge reflekteer oor die week se bedrywighede. ’n Gemiddeld van tussen 1 200 en 1 500 graad 7-leerlinge besoek jaarliks die buitelugskool op Aus. Die personeel van die skool bestaan uit drie fasiliteerders, te wete die hoof, mnr. Deon Kotzé, ’n departementshoof, mnr. Patric Xoagub, en fasiliteerder/sekretaresse, me. Natasha Loubser. Verder is daar sewe institusionele werknemers by die skool betrokke wat etes voorberei en die geboue en terrein versorg.