8.07.2008

Blink nuwe planne vir diamante

MET ’n noemenswaardige afname in aanlandige diamantproduksie wat van aanstaande jaar verwag word, moes die Namdeb-diamantkorporasie ’n nuwe weg soek om die leeftyd van die myn te verleng én die produksiesyfers in sy lisensiegebiede te handhaaf. Omgewingsdeskundiges het pas begin met die voor- en lewensvatbaarheidstudies (EIA) vir twee projekte.

Een daarvan is ’n aanlandige projek (Inshore Project), wat innoverende myntegnologieë sal gebruik om die lynstrand gebiede van ML-43 te toets en te myn. Die gebied is dusver as onmynbaar beskou as gevolg van baie branderaksie. Die ander projek sal mynopsies in die lae- en middelvlakwatergedeeltes (Inner Shelf Project) van Namdeb se mynlisensiegebiede ondersoek.

In die mynlisensiegebiede ML-43, ML-44 en ML-45 sal aanlandige operasies oopmynbedrywe langs die kus insluit en sowat 8 kilometer noordwes van Oranjemund begin. Die mynaktiwiteite sal sowat 260 kilometer noordwaarts strek tot by Lüderitz. Seewaarts strek die lisensiegebiede sowat 5 kilometer ver.

Per definisie strek die aanlandige gebied van die westelike perk van die huidige aanlan- dige mynoperasies tot ’n diepte van sowat 15 meter. Dit sluit in die tussengetykorridor (ITC), van die mees westelike grens van huidige mynaktiwiteite tot by die laagwatermerk (LWM), en die baievlakwateromgewing (USW), wat van die LWM deur die branderbreekstrook tot op ’n diepte van sowat 15 meter strek.

Die ITC-teikengebied dek sowat 3 kilometer, terwyl die USW ’n gebied van 23 kilometer beslaan. Die Inner Shelf-gebied is tussen die aanlandige en diepwatergebiede en daarom sluit dit die mariene dele van ML-43, ML-44 en ML-45, sowel as ML- 128A, B en C in. Ondersoekers sal in albei projekte probeer vasstel hoe die gebied op die verskillende mynmetodes sal reageer.

Die EIA-proses sal in ses fases geskied. Die eerste fase, ‘n spesialisaanvangsslypskool, het reeds in Mei afgeskop. Gedurende verlede maand en vandeesmaand sal vergaderings met die betrokkenes en ministeries plaasvind. Daarna sal spesialisstudies geïdentifiseer en saamgestel word om die impakte aan te spreek.

Tydens die oefening sal die omgewings-, maatskaplike en ekonomiese invloed van al die aktiwiteite wat saam met die projekte beplan word, ondersoek word en ’n omgewingsimpakverslag saamgestel word. Daarna sal omgewingsbestuursplanne voorberei word sodat owerhede ’n besluit oor die lewensvatbaarheid van die projekte kan neem. Die EIA word deur Pices Environmental Services onderneem.