25.07.2008 Williams wil eksperimenteerAfrigter opgewonde oor energie in span teen SA studente
DIE Namibiese rugbyoefengroep kry môre ’n kans om hul plekke in die nasionale span oop te speel. Die afskoptyd is 15:30 in die vriendskaplike wedstryd teen ’n Suid-Afrikaanse Universiteitspan op die Hage Geingobstadion. Namibië speel op 2 Augustus ’n Afrika- en Wêreldbeker kwalifiserende wedstryd teen Zimbabwe op dieselfde veld.
Môre wag ’n klipharde wedstryd teen ’n sterk universiteitspan wat van die buurland se beste studentespelers insluit. Namibië se afrigter, mnr. John Williams, het aan Republikein gesê hy wil môre soveel moontlik van die spelers in die oefengroep kans gee om te speel. Dalk selfs die hele groep van byna 30. Die beginvyftiental sou eers by gisteraand se oefening gefinaliseer word. “Ek wil al die spelers goed deurkyk.
Daar is ’n klompie van die spelers wat ek nog nie in aksie gesien het nie. Hierdie is die enigste wedstryd wat ons het om die manne goed deur te kyk en kombinasies te toets vir die wedstryd teen Zimbabwe.” Williams het vertel dat hy gelukkig is met die voorbereidings van die span tot dusver. “Daar is ’n energie in die span wat my opgewonde maak.
“Die manne is lus vir rugby en die bywoning by die oefeninge is baie goed.” Namibië se langste slot, Nico Esterhuyse, het met ’n besering gesukkel, maar hy is beskikbaar vir môre se wedstryd. Mnr. Williams het gesê indien Esterhuyse se mediese verslae reg is en sy vliegreëlings loop vlot, kan hy moontlik ook ’n paar minute speeltyd kry.
Nog drie staatmakers van verlede jaar se Wêreldbekerspan sal môre se wedstryd misloop, maar sal hopelik die volgende naweek op hul pos wees teen Zimbabwe. Hulle is die vurige losvoorspelers Jacques Nieuwenhuis (Valke) en Jacques Burger (Blou Bulle), wat onlangs as plaasvervanger goed vertoon in ’n Curriebekerwedstryd, en senter Piet van Zyl (Boland). Môre se wedstryd bied aan ondersteuners die kans om van Namibië se jonger talent in kombinasie met die gevestigde ervaring in aksie te sien.
Mnr. Williams sê die jong Suid- Afrikaners sal sterk kompetisie bied en dat die uitslag nie vir hom so belangrik is nie. Hy het gesê Namibië moet meer gereeld sulke sterk teenstand kry sodat die wedstryde van waarde kan wees. Die besoekers gaan beslis ’n lekker uitdaging opdis vir plaaslike spelers. Regstreekse radiokommentaar oor die wedstryd kan môre op NamibiaFM99 gehoor word. Dieselfde geld volgende naweek wanneer Namibië teen Zimbabwe speel.
• Die Metropolitan hoërskole ligas bereik vanaf vandag sy kwarteindstryde op die Hage Geingob-stadion en United se veld. Môre se program is so uitgewerk dat die skolespanne vanaf 07:45 begin as voorprogram vir Namibië teen die SA studentespan as hoofwedstryd.
• Die NRU se klubligas gaan ook soos normaal voort. Vanaand om 20:00 speel Unam I teen Western Suburbs I in die premierliga op die Hage Geingobstadion. Die twee klubs se eersteliga spanne speel die voorwedstryd om 18:30. Op Wanderers se veld begin die aksie 14:00 met die Sentraal eersteliga wedstryd tussen Wanderers en United. Daarna skop die Filistyne en die Wit Hingste se premierligaspanne om 15:30 af. Kudus van Walvisbaai reis na Grootfontein vir ’n premierliga ontmoeting.
Mariental se ondersteuners maak reg vir harde rugby môre op die Suidedorp. Die spelers van Reho Falcon II speel dan teen die gedugte Mariental kombinasie in die Sentraal eersteliga. Cats ontmoet Swans op Dawid Bezuidenhout se veld en op Tsumeb gaan die Etosha Leeus en Dolphins van Swakopmund kragte meet. In Oshakati gaan die stof trek tussen die tuisspan en Walvisbaai. Kudus II is op Narraville die gasheer teen Swakopmund.
|