
Aksie in die semifinaal tussen Walvisbaai en WHS o.15-b wat deur die Windhoekers met 36-15 gewen is.
SEWE van Windhoek Hoërskool se rugbyspanne het deurgedring na die eindstryde van die landwye jaarlikse Metropolitan Raadsbeker vir hoërskole. Die merkwaardige prestasie wys dat die skool volhou met ontwikkelingsprogramme en identifisering van nuwe talent wat elke jaar sterk deurkom.
In die o.19 Superliga is dit die bulspanne van Samsung WHS en Dr. Lemmer wat mekaar aandurf. Die eindstryd behoort ’n riller te wees, want albei skole het oor die jare ’n ryke rugbytradisie opgebou en spog met talentvolle spelers, bevoegde afrigters en tegniese raadgewers. Dr. Lemmer het Vrydagaand ’n titaniese stryd teen Elnatan gewen.
Toe die eindfluitjie blaas en die telbord ná bykomende tyd steeds op 16-16 staan, moes daar volgens die kompetisiereëls pale toe geskop word om die wenner te bepaal. Die seuns van Rehoboth het die strafskopstryd met 3-2 gewen. WHS het sy halfeindstryd teen Walvisbaai op ’n drafstap met 36-13 beklink.
Die Metropolitan Raadsbeker het oor die jare gegroei en spog vanjaar met ’n rekordgetal spanne wat uit die uithoeke van die land reis om die droomtitel van “beste in die land” na te jaag. Lüderitz, Maurits Devenish, Delta en skole van Mariental, Walvisbaai en Grootfontein kan hulself ’n klop op die skouer gee, terwyl Gobabis Gimnasium ’n plek in die o.19C-eindstryd behaal het. In die halfeindstryd is WHS deur agt spanne verteenwoordig, Dr. Lemmer deur vier, Windhoek Gimnasium drie, Grootfontein twee, HTS twee, Mariental twee en Otjiwarongo twee, Walvisbaai twee.
De Duine, Delta, Ella du Plessis, Elnatan, Gobabis, Jan Möhr, JG van der Wath, Lüderitz, Maurits Devenish, PK de Villiers en Tsumeb Gimnasium het elk een span in ’n halfeindstryd gehad. Komende Saterdag word die 2010 wenners in die Metropolitan Raadsbeker se verskillende ouderdomsgroepe bekroon.
WHS is opnuut die gunsteling om ’n paar trofeë omhoog te hou. Baie word ook van Windhoek Gimnasium verwag, veral nadat sy o.15A-span sy eweknie van WHS met 18-11 uitgeskakel het. Die Gimmies se opponent, WHS se o.15B-span, het wraak gesweer ná hul sege van 34-15 oor Walvisbaai.
Dieselfde opwinding word verwag wanneer die gedugte kombinasies van Windhoek Gimnasium en WHS in die o.14-eindstryd te staan kom. In die o.19A-afdeling sal die skole van HTS en Otjiwarongo mekaar in die finaal aandurf. HTS het teen De Duine met 24-17 gewen, terwyl Otjiwarongo vir Tsumeb Gimnasium met 18-3 kafgedraf het.
In die o.19B-afdeling het Dr. Lemmer teen PK de Villiers met 18-15 aan die wenkant geëindig, terwyl WHS vir Windhoek Gimnasium met 27-0 verslaan het. Ook hier spook Dr. Lemmer en WHS sake in die eindstryd uit. Gobabis Gimnasium en WHS se o.19’s meet kragte in die C-afdeling na hul onderskeidelike oorwinnings van 21-7 en 41-19 oor Grootfontein en Lüderitz.
In die o.19D-afdeling het Ella du Plessis vir Delta met 22-0 afgestof, terwyl WHS met 30-6 oor JG van der Wath geseëvier het. Grootfontein en Jan Möhr se spanne in die o.15 B-liga wag vir mekaar nadat hulle onderskeidelik teen Mariental en Dr. Lemmer met 37-13 en 52-6 gewen het.