15.03.2010 Welwitschias wurg Poubloues stokflou!
 Koes, keer, wees bang, baie bang, hier kom Pieter-Jan! Van Lill op agtsteman was Saterdag ’n doodsteek vir Griekwas met sy rotsvaste verdediging en vurige dryfspel.
WEL, wel… Welwitschias! Wat menige Namibiër gedink het Saterdagmiddag weer ’n houtlepel vir die Welwitschias sou wees, het toe ’n rugby-blyspel geword met die Namibiese amateurs wat die besoekende Griekwas vir 80 minute diep laat grawe het vir ’n naelskraapse oorwinning van 29-27.
In ’n letterlik en figuurlik bewolkte eerste helfte en ’n sonskyn tweede helfte het die Welwitschias die spoke van hul eerste twee wedstryde in die Vodacombekerreeks verdryf en ’n sielkundige hekkie oorgesteek om ware Namibiese rugby-karakter voor ’n halfvol hoofpawiljoen uit te stal. As daar ’n toekenning vir Namibiese speler van die wedstryd was, sou Pieter-Jan van Lill (agtsteman) dit gekry het.
Hy was ’n knyptang op die verdediging, ’n boormasjien in die vaste los en ’n staalspyker op die aanval wat so hittete met ’n skitterdrie beloon is vir sy aanvallende lopie van 40 meter. In ’n uitstalling van op-die-tiekie skopwerk pale en kantlyn toe het die Welwitschias se ontluikende heelagter Chrysander Botha se giftige linkervoet die Griekwas by tye moedeloos gehad.
Toe Botha in die tweede helfte linkervleuel toe skuif om plek te maak vir TC Losper op heelagter, was die Griekwas duidelik verlig. Net om ’n minuut later kennis te maak met die kanonskoppe van Losper se regtervoet. ’n Verslae Griekwa-vyftiental het in die doodsnikke in ongeloof gestaar toe die Welwitschias ’n strafskop tien meter binne hul eie halfgebied afgedwing het.
Die Poubloues het gereed gemaak vir die kantlynskop, maar nie Losper nie. Hy het komkommerkoel die bal by kaptein Jané du Toit gevat en aangedui hy gaan pale toe skop. Die Griekwas was doodstil en die pawiljoen rasend.
“TC, TC, TC,” het ’n koorsang gedruis, en die vuvuzela-blaaspype kon tot onder die Auasberge gehoor word. Die man met die magtige skopvoet het aangelê en losgetrek. Die bal het gemaklik die volle afstand en net ’n duim of twee links verby die pale geseil, tot hoorbare verligting van die besoekers. In al die fasette het die Namibiërs hul man deeglik gestaan.
In die skrums het Du Toit saam met driedrukker Johnny Redelinghuys (loskopstut) en haker Hugo Horn die Griekwas laat sweet en veral Horn het ’n paar keer soos ’n stormram deur die eerste linies gebreek. As die Welwitschias ’n kraak in die baksteenmuur soek, sal dit hul lynstane wees. Heinz Koll het as nommer 5-slot sy hart uitgespeel.
Die Welwitschias se toetslopiemet ’n nuwe lostrio van Andre Vermeulen, Renaud van Neel en vuurvreter Van Lill was geslaagd. Vermeulen is in die tweede helfte deur sy broer Braam Vermeulen vervang wat ook goeie rekenskap van homself gegee het. Ander reserwes wat speelkans gekry het, was Morne Blom (flank), Brendon Walters (haker) en Henk Roets (stut).
Griekwas het in die agtste minuut eerste bloed geruik met ’n strafskop deur skrumskakel Donald Stevens. In die 16de minuut het senter Barry Geel gaan druk ná ’n volle agterlynbeweging en met die telling op 10-0 het dit gelyk asof die Namibiese damwal nie die gety sou weerstaan nie. Kort daarna het Chrysander Botha sy eerste strafskop oorgeklits en met 10-3 was daar weer hoop.
Maar in die 25ste minuut het die gifappel-heelagter van Griekwas, Bjorn Basson, toegeslaan vir sy eerste van twee drieë wat deur Stevens verdoel is (17-3). Botha het later met nog ’n strafskop geslaag om dit rustyd 17-6 te maak. Presies tydens rustyd het die son sy kop vir die eerste keer die dag uitgesteek en saam daarmee nuwe lig in die Welwitschias geblaas. Namibië het met nuwe drif en vuur gespeel en veel meer gebiedsvoordeel begin geniet.
Botha het elke Griekwa-aanslag met puik skopwerk beantwoord en binne die eerste minute na rustyd het senter Bradley Langenhoven onderskep en 30 meter genael vir die eerste van sy twee drieë. Botha was in die kol en die telling skielik 17-13. Die drieë-partytjie was nog lank nie klaar nie. In die 13de minuut het die blitsige Basson sy tweede drie gaan druk. Hierdie keer het losskakel Divan van Zyl misgeskop.
Net toe dit begin lyk het asof die besoekers weer ’n stewige puntekussing sou opbou, het Langenhoven die koelste kop in ’n holderstebolder spulletjie op die Griekwa- doellyn gehou en oorgeduik. Botha het twee punte bygevoeg en die Welwitschias was stewig terug in die saal met die telling 22-20.
’n Oordeelsfout in die tuisspan se kamp in die 64ste minuut het gesorg dat Griekwas se reserweflank Burger Schoeman na ’n woeste losgemaal kon oorgaan vir ’n drie. Van Zyl het verdoel en met die telling 29-20 het die minute benoud afgetik. Maar toe pik stut Johnny Redelinghuys die bal soos ’n wafferse vleuel op en gaan druk ’n droomdrie.
Botha was weer in die kol en die eindfluitjie het geblaas met die telling op 29-27. Opsommend? Hierdie jong Welwitschias is besig om te gedy. Daar’s hart en siel in hierdie span, en dit was nie die laaste keer dat hulle van hulle laat hoor nie. Die span sal met groot afwagting uitsien om komende naweek teen die Valke te speel, wat onder afrigterskap van hul gewese breier John Williams staan.
DIE Welwitschia-rugbyspan kan komende naweek die land se 20ste onafhanklikheidsvieringe met ’n aangename geskenk op die sportveld besorg wanneer hy in die Vodacombekerreeks teen die Valke in Windhoek se Hage Geingobstadion te staan kom. Die Namibiërs het Saterdag teen die verdedigende kampioenspan, Griekwas, met ’n skrale twee punte verloor en kon inderdaad gewen het as ’n dramatiese strafskop in die doodsnikke deur die pale geseil het.
|