
Die doelwagter wat die tonge losmaak is Athiel Mbaha met sy skitterende vangskote. Hier is hy in aksie in Ghana tydens ‘n wedstryd teen Guinee met sy kaptein Michael Pienaar op die agtergrond.
DIE Brave Warriors is gerat om die tweede been in die Afrika Nasiekampioenskap teen Zimbabwe te wen en deur te dring na die volgende ronde van die kompetisie waarin net elke land se plaaslike spelers toegelaat word. In die eerste wedstryd in Harare kon geen span ‘n doel aanteken oor 90 minute nie en die telling het gelykop geëindig.
Namibië se senior nasionale span het dus nou die voordeel van ‘n tuiswedstryd en ‘n tuisskare wat in hul duisende die Onafhanklikheidstadion wil volpak. Arie Schans se Dapper Krygers gaan hul teenstanders uit Zimbabwe uit alle hoeke van die veld aandurf om die herontmoeting te wen sodat dit nie nodig is vir bykomende tyd of strafskoppe nie.
Die oorwinning moet oortuigend behaal en verdien word deur Schans se Krygers. Een van die tegniese raadgewers, Brian Isaacs, het by navraag aan Republikein gesê die spelers gee meer as 100% op die oefenveld, en die kanse is goed om die Zimbabwiërs te verslaan. “Ek glo Zimbabwe is onder hewige druk, want daar is verwag dat hulle die eerste been voor hul aanhangers moes wen.
Maar hulle is verras deur ‘n jong Namibiese kombinasie wat oorgehaal is om die eindronde in Ivoorkus te haal.” Zimbabwe behoort nie te weet wat hom in die Windhoekse Onafhanklikheidstadion tref nie. Nog nooit tevore was die Warriors so oorgehaal om te wen en hul aanhangers te verseker dat plaaslike sokker tussen die grotes van Afrika sy plek kan inneem nie. Onthou, ‘n paar harde weke wag op die Warriors. Hulle moet ook nog sake in die uitdunrondes van die Afrika Nasie- en Wêreldbekertoernooie uitspook.
Dis Kenia wat volgende op die Krygers se waglys is. Dan volg Guinee en die einste Zimbabwe. Baie dinge kan dan verander, want in die kwalifiserende reeks van beide toernooie vir 2010 mag die beroepspelers uit die buiteland vir hul lande oorweeg word. Dit kan ‘n groot verskil in die spelpeil van sommige lande maak. Intussen bied die Afrika Nasiekampioenskap ‘n gulde geleentheid aan plaaslike spelers om hul standaard met die res van die vasteland te meet.
Arie Schans het ‘n gedugte kombinasie wat met elke wedstryd verbeter. Talle sogenaamde sokkerkenners glo daar is beter spelers in die land. Onthou net Rome is nie in ‘n dag gebou nie. So gee Arie ‘n kans om te wys dat hy talent identifiseer wat goed genoeg is om die land se nasionale trui aan te trek en met trots verteenwoordig. Daar is altyd plek vir verbetering.
Daar is ook geskimp van spelers wat minder as 100% gee wanneer hulle die land verteenwoordig, veral die beroepspelers uit die buiteland. Die Afrika Nasiekampioenskap bied geleentheid om te wys of dit wel die geval is. Die voorbereiding verloop seepglad, en dit is net die Zimbabwiërs wat in die Windhoekse Onafhanklikheidstadion moet gly. Die erkende sokkerghoeroe Bobby Sissing is ‘n man wat verlede jaar die Warriors ten volle ondersteun het en deurgaans geglo het in die span se kanse om te kwalifiseer vir die Afrika Nasiebekertoernooi wat in Januarie in Ghana plaasgevind het.
Republikein het die legendariese Sissing telefonies gevra wat hy dink oor môre se kragmeting. “Daar kan net een wenner wees en dit is Namibië. Dit is hoog tyd dat plaaslike sokkeraanhangers die plaaslike sokkerspelers ondersteun, veral op internasionale vlak. So verwag ek dat die media agter die Warriors staan en hulle met positiewe beriggewing aanspoor.
In ander lande word ons sportlui afgekraak met negatiewe berigte. Dit is hoog tyd dat die plaaslike sportjoernaliste ook die houding inneem en besoekers laat weet dat hulle in die Land of The Brave is. “Die Afrika Nasiekampioenskap is die soort toernooi waar nuwe talent na vore kom.
Kyk net terug na die uitslag in die eerste been in Harare en jy besef dat daar al klaar ‘n paar spelers in die Namibiese span deurgekom het wat selfs oor twee jaar in Angola of Suid-Afrika hul buiging teen die heel bestes in Afrika en die res van die wêreld kan maak. My voorspelling is dat die Warriors met twee doele sal wen en met die voorste elf spelers behoort die wedstryd binne die eerste 45 minute in Namibië se guns te swaai.”