21.07.2008 Warriors wen 3-0
DIT was wel net die Comore, maar die Brave Warriors het gisteraand in Secunda, Mpumalanga gedoen wat van hulle verwag is en met 3-0 gewen in hul openingswedstryd in die Cosafa Uitdaagbeker sokkertoernooi. Dit was waarskynlik ook tot groot verligting van Namibië se nuwe afrigter, die Belg Tom Saintfiet, in sy debuut nadat hy by die onsuksesvolle Arie Schans oorgeneem het.
Die Namibiërs was rustyd met 1-0 voor nadat Lazarus Kaimbi (30ste minuut) die net getref het. Ná rustyd het Quinton Jacobs gesorg dat van hom kennis geneem word toe hy in die 50ste en 70ste minute doele behaal het. Jacobs was die kaptein van die dag met Michael Pienaar wat ongebruik op die reserwebank bly sit het. Jacobs is as die speler van die wedstryd aangewys hoewel hy ook ‘n driekuns kon behaal het met ‘n strafskop in die 80ste minuut.
Die Brave Warriors kom môre teen Lesotho te staan, en twee dae later teen Malawi. Malawi was gister met 1-0 aan die wenkant teen Lesotho. Spanbestuurder Tim Isaacs sê Namibië se mikpunt is om dié groep te wen. Die gasheerspan Suid-Afrika het ‘n loslootjie en raak eers in die kwarteindronde betrokke. In die ander groep het Seychelles gister vuis gewys teen Mauritius (7-1), terwyl Madagaskar en Swaziland met 1-1 gelykop gespeel het.
|