
Quinton Jacobs.
‘n GROOT uitdaging wag op die Brave Warriors wanneer hulle vanaand teen Malawi uitdraf in die 2008 Cosafa Uitdaagbekertoernooi in Mpumalanga. Namibië is in groep B en is tans in die tweede posisie met vier punte. Malawi is voor met ses punte. Vanaand se wedstryd sal bepaal wie van Namibië of Malawi deurgaan na die uitklopronde.
Die wenner van vanaand se wedstryd speel Saterdag teen Suid-Afrika se Bafana Bafana, wat tot dusver ‘n loslootjie gehad het. Die Brave Warriors het nie veel tyd gehad om voor te berei vir die wedstryde nie en hul nuwe Belgies-gebore afrigter Tom Saintfiet het sedert sy aankoms net drie dae gehad om met die span te werk voordat hulle na Suid-Afrika vertrek het. Namibië het sy eerste wedstryd teen die Comores met 3-0 gewen.
Die kaptein Quinton Jacobs het twee van die Warriors se doele behaal en Lazarus Kaimbi, wat vir Jomo Cosmos van Suid-Afrika speel, het die eerste doel geskop. Jacobs is as die speler van die wedstryd aangewys. Saintfiet het na die wedstryd gesê hy was tevrede met die sege, maar dat Namibië meer doele moes aanteken aangesien hulle die geleenthede geskep het.
Hy het aan ’n Suid- Afrikaanse tydskrif genoem dat die span nog baie afronding kort. Die Warriors het Dinsdag teen Lesotho met een-elk gelykop gespeel. Jamu Ngatjizeko het Namibië in die 25ste minuut met 1-0 laat voorloop met ’n kopskoot. Lesotho het die gelykmaker in die tweede helfte gekry. Malawi gaan verseker alles uithaal vanaand om die Warriors te klop.
Hulle hoef net gelykop te speel om te vorder na die uitklopronde. Vanaand se wedstryd sal beslis die karakter en dissipline van die Namibiërs toets. Vir Saintfiet is die wedstryde ’n uitstekende geleentheid om die span goed deur te kyk voor die twee oorblywende wedstryde in die 2010 Afrika Nasie- en Wêreldbeker kwalifiserende ronde. Namibië moet in September ’n wegwedstryd teen Kenia en ’n tuiswedstryd teen Zimbabwe speel.