25.07.2008 Warriors môre teen Bafana
MÔRE is dit die Brave Warriors teen Bafana Bafana nadat Namibië se sokkerspan gister sy plek in die kwarteindstryd van die Cosafa Uitdaagbeker verseker het. Die wedstryd sal op Witbank gespeel word en die afskoptyd is 14:00 Namibiese tyd.
Lazarus Kaimbi, met ’n skop van omtrent 35 meter in die 52ste minuut, het gister in Secunda verseker dat Namibië ’n oorwinning met 1–0 teen Malawi behaal en sodoende as wenner van Groep 2 uit die stryd tree. Kaimbi is ook as speler van die wedstryd aangewys vir sy poging wat die rustyd-skaakmat van 0–0 verbreek het.
Vir sy doel moes hy een opponent klop na hy ‘n lang skop van sy doelwagter, Athiel Mbaha, onder beheer gekry het. Republikein het Namibië se spanbestuurder, mnr. Tim Isaacs, gister uitgevra of die feit dat Suid- Afrika nou eers by die kompetisie betrokke raak, terwyl Namibië drie wedstryde gespeel het, ’n voordeel kan wees.
“Dit kan ’n voordeel wees, of ’n nadeel. Hopelik ’n voordeel, maar ons het ook beserings opgetel. Paulus Shipanga, Brian Brendell en Costa Khaiseb is almal buite rekening om teen Suid-Afrika te speel.” Luidens berigte wil Namibië by die toernooi-organiseerders aansoek doen om Sydney Plaatjies en Hartman Toromba, wat beide hul sokker in Suid-Afrika speel, nader te roep in die plek van die beseerde spelers.
Plaatjies is by Mamelodi Sundowns en Toromba het onlangs by Free State Stars aangesluit. ’n Kontantprys van R500 000 en ’n trofee wag op die kampioenspan in die toernooi. Die ander plek in die eindstryd is R225 000 werd. In gister se ander wedstryd het Lesotho met 1–0 teen die Comore gewen, maar beide spanne is reeds uitgeskakel.
|