
Laurentius Humphries is ’n bekende by plaaslike sokkervelde en ’n man wat die reëls en regulasies streng toepas.
NAMIBIESE sokker staar ’n string nuwe uitdagings in die gesig wat die grootste sportsoort in die land duur te staan kan kom. Verskeie aspekte oor die volgehoue groei van sokker kan ’n adder aan die boesem raak wat gif kan spuug, sou toenemende uitdagings nie dringend aangespreek word nie.
Sokker bevind hom in die onbenydenswaardige posisie dat klubs en toeskouer s feitlik by die dag toeneem, terwyl geriewe ewe vinnig agteruitgaan. Nog meer kommerwekkend is dat sokkerboewery saam met hierdie groeiende stroom toeskouers ook nou ’n werklikheid is.
Die eerste skoot het Saterdagmiddag letterlik en figuurlik geklap toe ’n wedstryd tussen Tigers en African Stars in die SKWstadion tydelik tot stilstand geruk is toe iemand ’n pistoolskoot in die lug afgetrek het. Midde chaos om ’n bekende sokkerboef wat met African Stars verbind word, op ’n draagbaar van die terrein te probeer verwyder nadat hy ’n stywe loesing by Tigers se ondersteuners op die lyf geloop het, het die pistoolskoot geklap.
Die wedstryd was toe reeds tydelik gestaak met Stars die 1-0 voorloper. Die gemors het begin toe die sokkerboef ’n leë blik na die skeidsrgter gegooi het nadat ’n speler van African Stars met ’n rooikaart afgestuur is. In die daaropvolgende warboel het die sekuriteitsmaatskappy Humphries Security Guard Division van mnr. Laurentius Humphries in ’n felle stryd beland om veglustige toeskouers in bedwang te hou.
Hy het gister aan Republikein die uitstappie van geweld en wanorde beskryf. In sy aktetas was ’n dringende verslag oor die lelike nadraai in die leo/NSV-uitklopkompetisie. Mnr. Humphries het gesê die bekende sokkerboef, wat glo onlangs kort na ’n wedstryd op Walvisbaai sy motor langs die speelveld getol het, was weer op sy stukke met kru taal en die blikgooiery vanaf die pawiljoen.
“Die blikgooiery het ’n reusegeveg tussen ondersteuners van die twee klubs afgegee en die skoot wat afgevuur is, weet ek kom uit die pistool van ’n Tigers-aanhanger. Ek en my 20 veiligheidswagte het alles in ons vermoë gedoen, maar hoe bring twintig wagte orde onder ’n malende, skreeuende sowat 6 000 toeskouers? Die klein stadion van SKW het ’n verkeersknoop veroorsaak wat die aanloop tot die middag se gebeure was. Alle eer aan my wagte. Ek was genoodsaak om 12 van hulle in ’n linie voor die hoofpawiljoen te ontplooi waar hulle in ’n gevaarsituasie steeds hul bes gedoen het om die skreeuende skare tot orde te bring. Ons is in staat om veel meer as twintig wagte by so ’n kragmeting te gebruik, maar ingevolge ’n NSV-ooreenkoms is 20 die limiet.”
As gevolg van hierdie insident het mnr. Humphries in sy verslag aan die Namibiese Sokkervereniging aanbeveel dat wedstryde van so ’n groot omvang in die toekoms nie by sulke klein stadions plaasvind nie. Die voorval onderstreep opnuut dat Namibiese sokker in ’n wurggreep van gebrekkige geriewe en nou ook sokkerboewery is.
’n Mens sidder om te dink dat die wedstryd tussen African Stars en Orlando Pirates nog volgende maand moet plaasvind. In die lig van die naweek se gebeure sal indringend na sekuriteit gekyk moet word, want die twee spanne het gemaklik die meeste aanhangers en dit is ’n uitgemaakte saak dat die Sam Nujomastadion op die dag maklik meer as 10 000 toeskouers kan verwag.
Mnr. Humphries pleit in sy aanbevelings aan die NSV dat sulke groot wedstryde nie in kleiner komplekse plaasvind nie, maar dit bring Namibië juis weer by een van sy ander dilemmas. Die Onafhanklikheidstadion in Windhoek is in hierdie stadium nog grasloos en die Sam Nujoma-stadion se dreineringstelsel is ’n verleentheid vir sokker nadat in die reënseisoen vasgestel is dat die stelsel op die veld ver benede die aanbevole standaard is en dit een of ander tyd vervang sal moet word.
Die situasie het so versleg dat die sokker vir die land se onafhanklikheidsvieringe heel waarskynlik in die Hage Geingobrugbystadion beslis sal moet word. In die hoofwedstryd van 21 Maart is die Brave Warriors veronderstel om Lesotho aan te durf in ’n vertoning aan besoekende spanne dat Namibiese sokker-infrastukture gereed is.
Terwyl die NSV Maandag opreg verskoning aangebied het oor die voorval by die SKW-stadion en beloof het om die nodige stappe te doen, laat mnr. Humphries se verslag die vraag op sokkerliefhebbers se lippe hoe die NSV gaan optree en wat bedoel word as hulle sê hulle sal die “regte prosedure volg”.
Die NSV voer ook aan dat SKW se veld goed genoeg is om enige wedstryd aan te bied. Volgens die NSV was Saterdag se voorval veroorsaak deur sekere individue of ’n groep mense wat hulle wangedra het en die veiligheid van ander toeskouers bedreig het. Ten slotte het die NSV gesê die beheerliggaam is daartoe verbind om die veiligste moontlike speelvelde vir sokker daar te stel en sal aanhou veg vir die status van die sportsoort as die wenner.