27.08.2010 Vere gaan môre waai in Mariental se Hoenderhok!
NOEM dit maar die slag waarvoor vele wag. Of dalk die Slag van die Suide. Dis nou die finale ligawedstryd van die MTC Premierliga-rugbyseisoentussen Mariental Rugbyklub en FNB Western Suburbs wat môremiddag in die gevreesde “Hoenderhok” daar neffens die skaduwee van die Hardapdam se wal in die afgehandel word.
As ’n mens na die twee spanne se afrigters en ondersteuners luister, gaan dit meer as net ’n onderonsie wees. Dit is inderdaad die dag van afrekening wat sal bepaal wie van Mariental, Suburbs of Spes Bona United se kans op hoër louere in 2010 lewend bly en wie se seisoen leëhande eindig met net hoop vir ’n volgende keer.
Albei spanne draf môre met bruisende trots en een oog op die halfeindstryd op.
Die tuisspan is in ’n beter posisie as die besoekende Suburbs, maar dis juis waar die knoop kan lê.
Suburbs, as Premierliga-kampioen van 2008 en semifinalis in 2009, het glo ’n fyn beplande strategie opgestel.
Hul taak is om môre volpunte op Mariental te verwerf, anders is ’n halfeindstryd daarmee heen. Om sake verder te bemoeilik, moet hulle Mariental in sy eie stadion hokslaan en keer dat die rooies ’n enkele bonuspunt byvoeg.
Dit wedsyfers is dus opgelaai teen die Khomasdallers, maar dit kan juis Rodger Smith se span gevaarlik maak.
Die afrigter wou nie veel uit die mou laat nie, behalwe om te sê dat beserings geen beperking op sy groep plaas nie en dat hulle vasberade is om hul laaste kans aan te gryp.
Een van die strydrosse van Suburbs-rugby, Walter Don, het aan Republikein gesê die groen-en-wit streeptruie het die afgelope week of wat ’n span raadgewers saamgestel vir spesiale aandag aan tegniese aspekte.
“Mariental moet weet ons kom nie onvoorbereid en oningelig oor hul spelpatroon, sterk- en swakpunte nie. Die raadgewende span het die afgelope dae baie aandag aan dissipline gegee, want in sulke belangrike kragmetings is dit een van die wagwoorde.
“Ons het dit duidelik aan die manne gestel dat ons ’n tweede kans gegun is om vanjaar nog ons stempel af te druk, en dit is ons totale motivering: om aan almal ’n punt te bewys en om die veggees uit te stal waaraan ons ondersteuners oor jare gewoond geraak het.
“Ons gaan volspoed om ons doelwit van die seisoen te bereik.”
Op Mariental is die tuisspan se afrigter, Gert van Wyk, ewe selfversekerd dat sy span die pyp gaan rook.
“Suburbs gaan nie hul sin kry nie. Ons is deeglik voorberei, beseringvry en kan feitlik ons beste span in die veld stoot. Ons is oorgehaal vir ’n halfeindstryd en Suburbs gaan ons nie keer nie. Mariental het vanjaar met sy terugkeer tot die Premierliga bewys rugby kan met trots, durf en passie gespeel word, en daarom is ons vandag in die gunstige posisie om halfeindstryde toe te mik.
“Die span se motivering is om Saterdag na Saterdag net hul beste te lewer en terselfdertyd hulself te geniet. ’n Uitstekende gees heers in die groep en almal is oorgehaal vir die laaste hekkie. Ons doen ook altyd ons huiswerk voor ’n kragmeting en omdat hierdie botsing so belangrik is, het almal so ’n ietsie ekstra ingesit.
“Ons weet ook van elke sterk- en swakpunt van Suburbs en hulle moet weet ons gaan hulle voorlangs aanvat waar ons die oorhand wil verkry en in die proses hul gevreesde agterlyn aan bande lê. Ek glo ons het die resep.”
Sportredaksie
|