Namibië se Wêreldboksorganisasie (WBO) Afrika weltergewig titelhouer Betuel (Tyson) Uushona kom vanaand in Johannesburg teen die Suid-Afrikaner Pius Dipheko te staan. Die geveg is vir tien rondes geskeduleer.
Uushona, onoorwonne na 21 gevegte, is op koers om binnekort die houer van die Statebondgordel, Kevin Anderson van Skotland, uit te daag. Die Namibiër se laaste oorwinning was teen Philip Kotey van Ghana aan die einde van Mei vanjaar toe hy eenparig as die wenner met punte aangewys is.
Pius (Mr Hercules) Dipheko, sy opponent vanaand, het van sy 23 beroepsgevegte sover nege gewen, nege verloor en vyf gelykop geboks. Dipheko is nie juis ’n onbekende faktor vir Namibiese boksers nie.
Hy het op 7 Augustus 2010 sy laaste geveg teen die Namibiër Martin Haikali in ’n eenparige puntebeslissing oor 12 rondes verloor.
Die Suid-A-Afrikaner het ook in 2007 teen Jason (Taks) Naule met ’n tegniese uitklophou verloor nadat hy twee jaar tevore ’n punte-oorwinning teen Kanime Kanime behaal het en teen Daniel (Open Fire) Kashela gelykop geboks het.
In ’n voorgeveg sal nog ’n Namibiër, Abraham Ndaendapo, in die veergewigklas teen die Suid-Afrikaner Oscar Chauke opgeweeg word. Beide Uushona en Ndauendapo word deur die afrigter en promoter Nestor Tobias vergesel.