24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

4.02.2010

Tokkie, Pat skitter in Xterra

© Boet Matthews
Xterra-stekend! ’n Eerste plek vir Tokkie en ’n derde plek vir Patrick in die afgelope naweek se Xterra-driekamp by Buffelspoort in Gauteng het beroepsatlete in die buurland laat regop sit.

TOKKIE Bombosch en Patrick de Goede het die naweek die weg gebaan vir ’n gevierde Namibiese teenwoordigheid by die uitmergelende Xterra-driekampreeks in Suid-Afrika met puik vertonings wat hul name deur die beroepsarena laat weergalm het.

Hul prestasies is behaal uit ’n inskrywingstal van meer as 600 deelnemers! Bombosch (41) het in sy eerste deelname aan die Xterra by Buffelspoort in Gauteng groot name laat sidder toe hy die afdeling vir mans van 40-44 jaar ingepalm en algeheel 12de geëindig het.

De Goede (42) het Namibiërs se potensiaal verder onderstreep met ’n puik derde plek in dieselfde afdeling en ’n 21ste plek algeheel. Dit was sy derde deelname, en beste uitslag nog. ’n Waterdeurdrenkte hindernisbaan het hulle ingewag op die draf- en bergfietsroetes ná deurdringende reën.

Die twee het met hul terugkeer die baan as ’n “moddergat” beskryf, met uitdagende ruwe terrein en ’n hele paar riviere wat oorgesteek moes word. Bombosch was sewende algeheel uit die koue water van die Buffelspoortdam en De Goede 16de.

Albei het puik gevaar in die daaropvolgende bergfietsrit. Bombosch het aan sy sewende plek geklou en De Goede het sterk getrap om tot die elfde plek te vorder.

Beide Namibiërs het egter in die hardloopskof oor die gevreesde “rotstuin-roete” van 10 km ietwat uitgesak. Nou wink die Xterra-reeks se grote oor twee weke.

Dit is wanneer die Suid-Afrikaanse kampioenskap in die omgewing van Grabouw in Kaapland onder die Hottentots-Hollandberge plaasvind. Wenners in elk van die afdelings sal kwalifiseer vir die wêreldkampioenskap in November in Hawaii.

Na hul puik vertonings die naweek is Bombosch en De Goede nou éérs gemotiveerd om by Grabouw hul vernuf te bewys. Hulle wil ook ’n paar voortreflike atlete saamvat vir ’n volle Namibiese aanslag.

Die gesoute Andy Chase, Paddy Murphy, Charmaine Shannon, Ingram van Heerden en waarskynlik nog atlete sal die aanslag help lei.

By die Grabouw-byeenkoms sal deelnemers 1,5 km moet swem, 30 km op die bergfiets aftrap en dan 11 km hardloop eindstreep toe. Die Namibiërs is bewus daarvan dat hulle oor twee weke teen die room van Suid-Afrikaanse driekampatlete te staan sal kom en daarom is die volgende tien dae se voorbereiding van kardinale belang.

Bombosch en De Goede is albei geweldig trots op wat hulle vermag het en hul vertonings het hulle nuwe woema vir die res van die jaar gegee. Hulle het skertsend gesê die beroepsatlete van Suid- Afrika het nou deeglik kennis geneem van ons Namibiërs.

“Dis so opvallend dat wanneer hulle motors met Namibiese registrasiemerke sien aankom, blaas hulle sommer die aftog!”

Die twee het ook die honderde SMS-boodskappe van hul landgenote terdeë geniet nadat hulle van Bombosch en De Goede se aanslag op die Xterra in verlede Vrydag se Republikein gelees het.

“Ons mense se aanmoediging was ongelooflik en ’n riem onder die hart. G’n wonder ons het so goed gevaar nie!”