DIE immergewilde Tara Rally vind vanjaar van 13 tot 15 November plaas en herdenk ook die 40ste bestaansjaar van die wedren. Total borg weer eens vanjaar die Tara Rally. Die Tara Rally vind tussen Windhoek en Rehoboth plaas en word gesamentlik deur die Windhoek Motorklub en die Redline Motorklub georganiseer onder die beskerming van die Namibiese Motorsportfederasie.
Mnr. Harald Lingner is vir die derde agtereenvolgende jaar die hoof baanbeampte. Die Total Tara Rally maak deel uit van die vierde rondte van die 2008 Namibiese wedrenkampioenskap en die eerste tien spesiale trajekte, wat ’n totaal van 111 km uitmaak, sal vir dié kampioenskap tel.
Toeskouers en motorsportentoesiaste kan hulle gereed maak vir nog ’n fees van wedrenvermaak. Die 659 km wedren se wegspring is op Donderdag 13 November om 20:00 by die munisipale parkeerterrein oorkant die Kalahari Sands Hotel met 28 spesiale trajekte oor ’n afstand van 317 km.
Volgens die organiseerders van die Total Tara Rally is die meeste van die trajekte baie toeskouersvriendelik met ’n super spesiale trajek wat op die Tony Rust-renbaan om 20:00 die Vrydagaand sal plaasvind.
Die laaste trajek van die wedren vind die Saterdag om 12:00 by die Eros lughawe plaas. Die amptelike hoofkwartier van die wedren is by die SKW Sportklub geleë waar die oornag stoppunte sal wees en die wedren sal om 13:00 die Saterdag ten einde loop. Die organiseerders verwag tussen 30 en 35 inskrywings, onder wie verskeie Suid-Afrikaners.
Total se span wat uit J.P. Damseaux en André Vermeulen bestaan en ook die wenners is van verlede jaar se Total Tara Rally in S2000 Toyota RunX, sal ook hier wees om hul titel te verdedig. Die eerste Tara Rally is in 1969 gehou en is deur Chris Liebenberg en André de Jager in ’n Renault Gordini gewen. Die hoof baanbeampte, mnr. Harald Lingner, het gesê die roeteis baie kompak wat dit meer toeganklik maak vir toeskouers en deelnemers.
Total Namibië bied ook ’n nasionale promosieveldtog aan oor die Total Tara Rally by hul diensstasies, waar Total motorsportuitrustings gewen kan word. ’n Volledig betaalde reis vir twee na die 2008 Total Tara Rally is die hoofprys wat gewen kan word. Meer inligting oor die Tara Rally self en die kompetisie kan by enige Total diensstasies bekom word. moti